Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Myeni wil swygreg voor Zondo gebruik

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-direksie en stigterslid van die Jacob Zuma-stigting, wil haar swygreg toepas in haar getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Myeni sê sy wil die kommissie graag help, maar haar regsverteenwoordigers het haar aangeraai om haar grondwetlike reg uit te oefen en nie al die vrae te beantwoord wat aan haar gestel word nie.

“Ek verskyn voor die kommissie ingevolge die kommissie se regulasies. Ek het ’n beëdigde verklaring afgelê waarin ek noem dat ek die kommissie respekteer en wil help, maar ek is in ’n baie moeilike posisie.

“Daar is ’n hofbevel dat ek aangekla moet word. Ek dink ek is angstig daaroor dat ek nie my grondwetlike reg moet prysgee om myself te inkrimineer nie,” sê Myeni.

Dudu Myeni getuig Woensdagoggend per videoskakel voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Sy voer aan dat sy altyd verantwoordelik is en bereid is om voor die kommissie te verskyn “om vir eens en altyd alles te hanteer wat gesê is, asook al die valse bewerings wat in my afwesigheid gemaak is”.

Volgens Myeni is die probleem die hofbevel wat teen haar is en die regsmening wat aan haar gegee is dat sy daarteen appèl moet aanteken.

“Dit is voor die kommissie en bekend in die openbaar, daarom wil ek my reg uitoefen en antwoord waar ek kan en stilbly waar ek kan.”

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het die verrigtinge vir eers verdaag totdat Myeni en die kommissie se regspanne die kwessie kom uitstryk oor die vrae wat sy nie wil beantwoord nie.

Myeni getuig per videoskakel vanuit haar huis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping. Sy het die kommissie Dinsdag laat weet dat iemand in haar huishouding positief vir die koronavirus getoets is en dat sy in selfisolasie is.

Meer oor Myeni:

• Sy is September 2009 as nie-uitvoerende direkteur van die SAL aangestel, het in Desember 2012 waarnemende voorsitter geword en voorsitter in September 2016. Sy is in Oktober 2017 vervang as voorsitter.

• Sy is ’n stigterslid van die Jacob Zuma-stigting en ’n vertroueling van oudpres. Jacob Zuma.

• Myeni is in Mei vanjaar lewenslank tot ’n misdadige direkteur ingevolge die Maatskappyewet verklaar.

Dié uitspraak deur die hooggeregshof in Pretoria spruit uit ’n hofaansoek wat deur die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die Suid-Afrikaanse Vlieëniersvereniging (SAAPA) teen Myeni gebring is oor die rol wat sy die afgelope jare gespeel het in die ondergang van die SAL.

• Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, het voor die Zondo-kommissie aangevoer dat Bosasa R300 000 per maand kontant aan Myeni gegee het om glo aan die Zuma-stigting te oorhandig.

• Daar is ook voor die kommissie getuig dat Myeni in 2015 direk betrokke was toe daar by Eskom besluit is die uitvoerende bestuur moet geskors word as deel van ’n plan om Gupta-genote in sleutelposte in dié staatsentiteit aan te stel.

• Nicholas Linnell, ’n regskenner wat bekend was as Myeni se “Mr Fixer” het voor die kommissie getuig hoe hy namens Myeni – en in der waarheid in opdrag van Zuma – in Maart 2015 by Eskom-sake ingemeng het sodat die bestuurslede vervang kan word. Dit het daartoe bygedra dat die Guptas hul kaping van Eskom kon deurvoer.

Meer oor:  Sal  |  Dudu Myeni  |  Staatskaping  |  Zondo-Kommisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.