Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Myngroep bring lastereis

Drie aktiviste en drie omgewingsregslui het Dinsdag in die hooggeregshof in Kaapstad verskyn om hulself te verweer teen ’n Australiese myngroep se las­tereis van R14,25 miljoen teen hulle.

Die aktiviste, John Clarke, Mzamo Dlamini en Davine Cloete, en die drie regslui, Cormac Cullinan, Tracy Davies en Christene Reddell, word deur die Au­straliese myngroep MRC (Miner­al Resources Commodities) en sy Suid-Afrikaanse filiaal, MSR, daarvan beskuldig dat hulle dié maatskappy se naam op openbare vergaderings, in artikels, ’n radio-onderhoud en in ’n lesing by ’n regskool beswadder het.

Mark Caruso, uitvoerende hoof van MRC en Zamile Qunya, een van sy Suid-Afrikaanse maatskappydirekteure, het die eis teen die ses ingestel weens beweerde lasterlike uitlatings oor MRC se huidige Tormin-operasies aan die Weskus en die maatskappy se beoogde Xolobeni-operasie aan die Wildekus in die Oos-Kaap.

Die Sentrum vir Omgewingsregte (CER) het Dinsdag in ’n verklaring gesê dit is die eerste keer in die Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis dat die kwessie van strategiese litigasie teen openbare deelname – ook bekend as ’n “SLAPP-suit” – deel uitmaak van ’n regsargument waarin aangevoer word dat die mynmaatskappy die regsproses misbruik en dat dit nie in die hof toegelaat behoort te word nie.

Die verdediging voer aan dié lastereis is daarop gemik om die mond van die burgerlike gemeenskap te snoer ten opsigte van omgewingskwessies.

Die verdediging se regsverteenwoordigers voer in ’n geskrewe dokument aan dat die mynhuis se doelwit met die lastereis is om lede van die burgerlike gemeenskap en belanghebbendes te ontmoedig om aan openbare prosesse deel te neem wanneer ’n mynhuis aansoek doen om op ’n spesifieke plek te myn.

Die verdediging voer voorts aan dat die doel van die lastereis is om die burgerlike gemeenskap, asook die media te intimideer om hulle te weerhou van enige kritiek teen ’n maatskappy.

Leanne Govindsamy, prokureur van die CER, het Dinsdag gesê dié soort litigasie word oor die wêreld heen gebruik om diegene wat die omgewing teen vernietigende mynbouaktiwiteite wil verdedig, te intimideer in ’n poging om hulle stil te maak.

Sy het gesê sulke taktieke ondermyn die demokrasie, vryheid van spraak en akademiese vryheid en hou ’n groot bedreiging vir lewendige burgerlike organisasies in.

Sy het gesê geen maatskappy behoort Suid-Afrika se howe op dié manier te misbruik nie.

“Howe se prosedures behoort nie misbruik te word deur welvarende en ryk maatskappye wat hul kritici wil stilmaak deur uitgerekte regsprosesse nie.”

Govindsamy het gesê dié soort optrede deur groot maatskappye kan gewone mense emosioneel en geldelik uitroei.

Clarke, ’n welsynwerker en gemeenskapsaktivis, word vir R10 miljoen gedagvaar, onder meer weens ’n artikel wat hy in Maart 2016 op Daily Maverick onder die opskrif “Goodbye Bazooka: Wild Coast Anti-Mining Activist Killed” laat publiseer het.

Mzamo Dlamini, ondervoorsitter van die Amadiba-krisiskomitee, en Cullinan, ’n omgewingsprokureur, word elk vir R1,5 miljoen gedagvaar weens uitlatings wat hulle glo gemaak het oor die moord op Sikhosiphi “Bazooka” Rhadebe in ’n radio-onderhoud met Redi Tlabi op Radio 702 en Cape Talk. Rhadebe was ’n voormalige voorsitter van die Amadiba-krisiskomitee en is vermoor. Sommige bring die moord op hom in verband met aansoeke om titaniummynbou op die sandduine in die gebied.

Die lastereis teen Davies en Reddell, albei voormalige prokureurs van die CER, en Cloete, omgewingsaktivis van die Wes-Kaap, is ingestel na aanleiding van kritiek oor beweerde omgewingsvergrype by MRC se Tormin-myn aan die Weskus. Dié kritiek is uitgespreek tydens ’n lesing by die somerskool van die Universiteit van Kaapstad.

Die mynhuis eis skadevergoeding van R250 000 van elk van die drie verweerders.

Die saak voor adjunkregter Patricia Goliath duur Woensdag voort.

Meer oor:  Radio-Onderhoud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.