Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
’n Bisarre brief voor hameraanval

Net tien dae voordat Sean Kelly na bewering sy buurvrou met ’n hamer doodgeslaan het, het hy in ’n brief aan die plaaslike koerant gesê dis “volgens die natuurwet” sy reg om enigeen wat sy “gesin” aanval, dood te maak.

Noreen Hampson

Verlede Saterdagmiddag het hy Noreen Hampson (66) na bewering ten aanskoue van inwoners van die rustige kusdorp Sedgefield in die Suid-Kaap doodgeslaan.

Niemand weet wat tot die aanval gelei het nie. Volgens ooggetuies was Hampson, ’n eiendomsagent, omstreeks halfsewe die aand op ’n leer buite haar huis besig toe Kelly met sy skaaphond daar opdaag en haar met ’n hamer begin slaan.

Hy is terug na sy huis toe en het met ’n hamer, volgens die oogge­tuies ’n “vyfpond-hamer”, teruggekeer en haar weer geslaan waar sy ná die eerste voorval bly lê het.

Die bure het probeer keer, maar hy het hulle weggejaag. Toe die polisie en brandweer opdaag, wou Kelly hulle ook nie naby Hampson toelaat nie. Enigeen wat naby hom kom, het hy met die hamer gejaag. Hy het ook die vensters en ligte van geparkeerde voertuie stukkend geslaan.

Sean Kelly

Die drama het uiteindelik meer as ’n uur lank aangehou, met bure, paramedici en wetstoepassers wat verskrik agter voertuie weggekruip het. Dis eers beëindig nadat die polisie waarskuwingskote geskiet het en Kelly die huis ingevlug het.

Toe hy weer uitstorm, het hulle hom met rubberkoeëls geskiet. Hy het op sy knieë neergesak, maar het regop gekom en weer die huis ingestrompel. Lede van die polisie se openbare-orde-eenheid is met skilde agterna.

Hulle het hom in boeie uitgebring en hy is al swetsend in ’n polisievoertuig gelaai.

Hampson was reeds dood.

Kelly was die laaste tyd baie ongedurig. ’n Briefskrywer aan die plaaslike koerant, The Edge, het geskryf ’n “Engelssprekende wit man” met ’n skaaphond het by hom opgedaag, op hom gevloek en geskreeu dat ’n hond sy skaaphond aangeval het. Die Engelssprekende man het gesê hy het die hond wat syne aangeval het geklap en ’n vrou rondgepluk.

Noreen Hampson se lyk is tussen die boom (regs) en haar huis aangetref. Sean Kelly se huis is aan die linkerkant.

Die briefskrywer, wat hardhorend is, nooi dié persoon om saam met hom koffie te gaan drink, of ’n bier, om die saak uit te praat.

Dit het Kelly glo ontstel, want hy het kort nadat die brief verskyn het, by die koerant se kantore opgedaag met ’n brief wat hy self geskryf het. In dié brief het hy glo geskryf die briefskrywer het hom “besmet” met sy “grillerige” energie.

Hy maak glo ook neerhalende opmerkings oor gestremde mense.

Hy sê sy hond is al hoeveel keer deur groter, “lafhartige” honde aangeval en dat hy enige aanval op sy hond beskou as ’n aanval op sy familie.

Dan dié woorde: “Volgens die natuurwet het ek die reg om enige persoon of hond of enigiets wat my gesin aanval, te beseer of dood te maak.”

Inwoners sê Kelly is ’n humeurige man. Volgens een van die inwoners het sy hom een oggend gegroet, maar toe wys hy haar ’n middelvinger.

“Ek dink toe: ‘Genade, dis nou nie die gedrag van ’n Sedgefield-mens nie!’ ”

Kelly het Dinsdag op aanklagte van moord en saakbeskadiging in die landdroshof in Knysna verskyn.

Teen gister het meer as 1 800 mense ’n aanlyn petisie geteken om te vra dat hy nie borgtog kry nie.

’n Gedenkdiens vir Hampson is Vrydag in die Sedgefield Christian Church gehou.

Meer oor:  Sean Kelly  |  Noreen Hampson  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.