Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
N1-jaer in hof, ‘kan tronk toe gaan’

Die man van Midrand wat in die vakansietyd in ’n Audi teen 308 km/h op die N1-hoofweg gejaag het, word deur tronkstraf in die gesig gestaar,” sê die Gautengse verkeerspolisie.

Siphumulile Mncube (36) het Maandag in die landdroshof in Midrand op ’n aanklag van roekelose en nalatige bestuur verskyn.

Obed Sibasa
Obed Sibasa, woordvoerder van die Gautengse verkeerspolisie, praat Maandag buite die landdroshof in Midrand. Foto: Christiaan du Plessis

Dié vermeende jaagduiwel is Sondag in ’n polisiekantoor borgtog van R1 500 toegestaan nadat hy vroeër die dag in Waterfall City in hegtenis geneem is.

Obed Sibasa, woordvoerder van die Gautengse verkeerspolisie, het Maandag by die hof gesê Mncube kan swaar gestraf word, en kan selfs tronk toe gaan.

“Die hof gaan aan die publiek wil wys dat roekelose gedrag op ons paaie nie geduld sal word nie,” sê Sibasa.

Mncube se jaagtog was in ’n Audi TT met ’n aangepaste enjin op ’n deel van die N1 waar die spoedbeperking 120 km/h is. Boonop het hy op sosiale media gespog oor die spoed waarteen hy gejaag het.

Sibasa sê Mncube gaan dalk nog eendag agter tralies moet “spog”.

“Hy het ’n negatiewe ingesteldheid teenoor die publiek en boonop was hy arrogant deur op sosiale media daarvan ’n vertoon te maak,” sê Sibasa.

Makhosini Msibi, bestuurshoof van die Padverkeersbestuurskorporasie, sê ook Mncube kan ’n swaar straf opgelê word. Hy wys daarop dat motoriste wat die spoedbeperking met meer as 40 km/h oortree, ingevolge die wet in hegtenis geneem moet word.

“Dit word reeds as buitengewoon geag as ’n motoris teen 220 km/h in ’n gebied ry waar die spoedbeperking 120 km/h is. Die beskuldigde se spoed was 308 km/h,” sê Msibi.

Hy sê spoed is benewens dronkbestuur, onpadwaardige voertuie en voetgangers wat die padreëls oortree, die hoofoorsaak van padongelukke.

“Motoriste wat jaag is ’n bedreiging vir ander mense op die pad, en mense verstaan nie altyd hoe groot die probleem is nie.”

Die saak is tot aanstaande maand uitgestel.

Meer oor:  Midrand  |  Landdroshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.