Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Nafiz Modack eis van polisiehoës

Nafiz Modack (39), vermeende rolspeler in die Kaapse onderwêreld, dagvaar onder andere die minister van polisie en nasionale polisiekommissaris vir sowat R7 miljoen.

Die dagvaarding is Donderdag aan Bheki Cele, minister van polisie, genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, genl.maj. Jeremy Vearey, Wes-Kaapse speurhoof, genl.maj. André Lincoln, hoof van die Wes-Kaapse bende-eenheid, kapt. Althea Jeftha van die teenbende-eenheid, asook Stuart Bailey en Radley Dijkers, werknemers van The Grande-restaurant beteken.

Modack sou aanvanklik ook vir lt.kol. Charl Kinnear (52) dagvaar, maar Kinnear is op 18 September vanjaar voor sy huis in Bishop Lavis vermoor.

Nafiz Modack met een van sy verskynings in die saak van afpersing in die streekhof in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

In die hofstukke beweer Modack dat Vearey en Lincoln die ondersoek teen hom weens bewerings van afpersing aangehits het. Hy voer aan dat sy inhegtenisneming in Desember 2017 onregmatig was, die daaropvolgende vervolging kwaadwillig was en dat dit veroorsaak het dat hy voor sy familie en vennote verneder en in die verleentheid gestel is.

Hy sê dat sy inhegtenisneming tot ’n verlies aan inkomste gelei het, dit sy goeie naam in die gedrang gebring het en dat hy as gevolg daarvan emosionele en sielkundige lyding moes verduur.

Lede van die bende-eenheid het Modack op 15 Desember 2017 by sy huis in Plattekloof in hegtenis geneem. Kinnear was die hoof van die ondersoek teen hom en vier ander, Colin Booysen, Ashley Fields, Jacques Cronjé en Carl Lakay.

Lakay is in Augustus 2018 vermoor. Modack, Booysen, Fields en Cronjé is in April vanjaar op die aanklagte teen hulle vrygespreek.

Modack se prokureurs voer aan dat die aanklagte van afpersing teen hom vals was en dat die ondersoekbeampte (Kinnear) dit geweet het. Hy en sy medebeskuldigdes is daarvan aangekla dat hulle die bestuur en eienaars van The Grand, ’n bekende opelugrestaurant in die Kaapse Waterfront, vir sowat R90 000 afgepers het.

Volgens Modack se prokureurs was die inligting wat die ondersoekbeampte gegee het om die lasbrief vir sy inhegtenisneming te bekom vals en die lasbrief is verkeerdelik uitgereik.

Hulle voer aan dat Kinnear geweet het dat die inligting onvoldoende was om die uitreiking van die lasbrief te regverdig.

Volgens hulle was daar geen prima facie-saak teen Modack nie en daar was geen voorsienbare moontlikheid dat die getuienis enigsins in die toekoms voldoende sou wees vir ’n saak teen hom nie.

Hy sê dat sy inhegtenisneming tot ’n verlies aan inkomste gelei het, dit sy goeie naam in die gedrang gebring het en dat hy emosionele en sielkundige lyding moes verduur.

“Gegrond hierop was ons kliënt se inhegtenisneming deur Kinnear asook sy aanhouding onwettig. So ook was die optrede deur Vearey en Lincoln, wat Kinnear opdrag gegee het om ons kliënt in hegtenis te neem en te laat aanhou, onwettig.”

Hulle voer ook aan dat Bailey en Rijkers deur Kinnear en Jeftha gedwing is om die saak van afpersing teen hom aanhangig te maak.

Modack eis gevolglik net minder as R3,5 miljoen vir onregmatige inhegtenisneming en nog byna R3,5 miljoen vir kwaadwillige vervolging.

Die respondente het tien dae kans om aan te dui of hulle sy eis gaan teenstaan.

Navrae is aan die betrokke partye gerig en die reaksie sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Nafiz Modack  |  Polisie  |  Polisie Gedagvaar  |  Dagvaar  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.