Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Nalatige internis spring tronk vry ná pasiënt sterf
Pikkie en Emile van den Bergh Woensdag in die hooggeregshof in Palmridge. Foto: Elise Tempelhoff

Die vonnis van ses jaar tronkstraf wat ’n internis van Vanderbijlpark Woensdag opgelê is vir die dood van ’n 17-jarige meisie wat vier jaar gelede ’n blindedermoperasie ondergaan het, is vir vyf jaar opgeskort.

Dr. Whitney Mentor (42), wat ’n praktyk in die MediClinic in Vanderbijlpark het, het beken dat hy nalatig was toe hy Franzel van den Bergh sowat ’n week ná die blindedermoperasie in die waakeenheid van die hospitaal behandel het.

Hy moes vog uit haar borskas dreineer, maar het die dreineringspyp verkeerd geplaas. Die pyp het ’n slagaar beskadig en sy het inwendig gebloei. Haar liggaam het daarna in skok gegaan en haar hart het gaan staan.

Franzel was destyds ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Transvalia. Sy het op Sondag 12 Oktober 2014 van maagpyn en naarheid gekla.

Haar ouers, Pikkie en Emile van den Bergh, het haar die volgende dag hospitaal toe geneem.

Sy het later die dag ’n laparoskopie en daarna ’n blindedermoperasie ondergaan. Daar was komplikasies en sy is weer op 22, 24 en 30 Oktober geopereer.

Septisemie het ingetree.

Franzel van den Bergh kort voor haar dood in die MediClinic in Vanderbijlpark.
Franzel van den Bergh (17)

Op 4 November is Mentor se hulp ingeroep en vog is onder verdowing uit haar borskas gedreineer.

Mentor het erken dat hy die dreineringspypie te laag (by die agtste ribspasie) ingedruk het. Dit het deur haar diafragma gesteek en haar lewer binnegedring.

’n Slagaar wat beskadig is, het bloeding veroorsaak en haar liggaam het in skok gegaan en haar hart het gaan staan.

Mentor het erken hy moes die dreineringspypie tussen die vyfde en sesde rib ingedruk het.

Mentor het kop onderstebo en met trane in sy oë geluister toe adv. Deon Barnard, namens die staat, sy pleitverduideliking voorgelees het.

Die Van den Berghs het mekaar ná regter William Karan se uitspraak vasgehou en trane afgevee.

Mentor het in sy pleitverduideliking gesê hy het “diep berou” oor sy nalatigheid en het Franzel se ouers verskoning gevra en gesê die voorval “spook dag en nag by hom”.

Hy het bygevoeg hy wens hy kon die horlosie terugdraai. Die voorval het hom as mediese praktisyn ernstige skade berokken.

Van den Bergh het gesê as ouers sal hulle nooit sonder hul kind tevrede kan wees nie.

Mentor was aanvanklik ook aangekla van bedrog en regsverydeling, asook ’n oortreding wat met geboortes en sterftes verband hou. Nadat hy besluit het om skuld te beken op ’n aanklag van strafbare manslag, het die staat die ander klagtes laat vaar.

Dr. Whitney Mentor (42) en adv. Barry Roux, wat namens hom opgetree het. Foto: Elise Tempelhoff

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.