Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Name van OB-ondersoekpaneel volgende week bekend

Die name van mense wat op die onafhanklike paneel sal dien wat moet bepaal of daar gronde is om adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), uit haar amp te verwyder, word volgende week aangekondig.

Die inligting is Donderdagoggend gedurende ’n sitting van die komitee wat die Nasionale Vergadering (NV) se program moet bepaal, aan LP’s bekend gemaak.

Dit volg nadat Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, wou weet wat die jongste verwikkelinge is rakende dié paneel.

Masibulele Xaso, sekretaris van die NV, het gesê Thandi Modise, speaker van die NV, sal volgende week ’n aankondiging oor die paneel doen.

Adv. Busisiwe Mkhwebane Foto: Conrad Bornman

“Alles wat gedoen moes word, is nou gedoen. Die speaker is nou gereed om bekend te maak wie die mense is wat op die paneel sal dien en hoe die paneel sal funksioneer.

“Ons verwag dat die speaker se kantoor vroeg volgende week ’n aankondiging sal doen,” het Xaso gesê.

Modise het vroeër gesê die samestelling van die onafhanklike paneel is vertraag omdat van die kandidate wat aanvanklik daarvoor benoem is, onttrek het nadat hulle aangedui het dat hulle ook by ander aangeleenthede betrokke is wat die uitslag van die paneel op een of ander wyse kan raak. Die benoemingsproses moes toe weer van voor af gedoen word.

Intussen probeer Mkhwebane steeds om ’n stokkie voor die parlementêre proses oor haar verwydering te steek.

Haar appèlaansoek word op 24 November aangehoor.

In haar jongste poging gaan sy aansoek om verlof tot appèl doen teen ’n uitspraak van die hooggeregshof in Kaapstad wat verlede maand haar aansoek vir ’n tussentydse interdik van die hand gewys het.

Mkhwebane wou daarmee die parlementêre proses tydelik staak totdat haar aansoek afgehandel is waarin sy die reëls, wat die parlement teen haar wil gebruik om haar te verwyder, ongrondwetlik wil laat verklaar.

Haar appèlaansoek word op 24 November aangehoor.

Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, het Dinsdag in ’n verklaring gesê die parlement gaan dié aansoek teenstaan.

Volgens Mothapo was die hof in sy uitspraak tevrede dat die parlement met die verwyderingsproses kan voortgaan en het bevind dat die verwydering van ’n ampsdraer van ’n hoofstuk 9-instelling ingevolge die Grondwet ernstig is en dat ’n hof nie ligtelik daarby moet inmeng nie.

Vroeër is berig hoe Mkhwebane onder meer in haar appèlaansoek gaan aanvoer dat die hooggeregshof gefouteer het en die volbank regters verkeerd geargumenteer het om by die beslissing uit te kom dat indien haar aansoek toegestaan sou word, dit onregmatig by die magte van die parlement sou inmeng.

Dit is nadat sy in haar aanvanklike interdikaansoek aangevoer het haar reputasie sal skade ly en sy kan haar werk kwyt wees as die proses sou voortgaan weens die DA-mosie wat “te kwader trou” teen haar ingedien is.

Die DA wil Mkhwebane as OB laat verwyder omdat die party glo dat sy ná ’n reeks verdoemende hofuitsprake teen haar onbevoeg en “polities gekaap” is.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Kaapstad  |  Ondersoek  |  Openbare Beskermer  |  Hooggeregshof  |  Appèl  |  Ob
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.