Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Naweke tronk toe ná sy eks aanhou teister

’n Vrou van Potchefstroom moet vir ses maande haar naweke in die tronk deurbring omdat sy hofbevele verontagsaam het wat haar verbied het om haar eks-kêrel te teister.

Abigaile Gertzen (41) het onder meer ’n foto van haar gewese minnaar, Steven Kleingeld (53), op haar profiel-inligting op WhatsApp gebruik en gesê hy is “white trash”.

Steven Kleingeld Foto: Facebook

Kleingeld sê hy beskou dit as rassisties omdat hy wit en sy swart is. Hy sê in hofstukke ook sy het hom in ’n stadium tot 30 keer op een dag op sy direkte lyn by die werk gebel. En sy het hom by sy huis en sy kerk lastig geval.

Kleingeld, wat ook in Potchefstroom woon, is ’n senior mensehulpbronbestuurder by AngloGold Ashanti in Carletonville.

Kleingeld en Gertzen het van 2012 af drie jaar lank ’n verhouding gehad. Dit het stormagtig geëindig en hulle het albei beskermingsbevele teen mekaar gekry. Hulle maak toe op, maar ’n jaar later, in 2016, was alles verby.

Dis toe dat die teistering volgens Kleingeld begin het.

Hy sê sy het hom met boodskappe en oproepe gebombardeer, na sy huis gekom, hom name toegesnou en hom voor sy bure in die verleentheid gestel.

Hy sê hy het vir haar prokureursbriewe gestuur, maar sy het dit geïgnoreer. In 2017 het hy ’n interdik teen Gertzen gekry. Sy is verbied om hom te kontak of binne 200 m van hom te kom en hom te belaster.

Dit het haar ook nie gekeer nie en sy het ’n opskorte vonnis gekry omdat sy die hofbevel geminag het. Die regter het selfs vir haar ’n baie lang “preek” gegee, sê Kleingeld.

Gertzen het egter aangehou vals stellings oor hom maak, sê Kleingeld. “Sy beweer dat ek haar steeds kontak of na haar plek kom of haar in die openbaar vloek, wat alles onwaar is.”

Die laaste strooi was toe sy hom op haar WhatsApp-profiel sleggesê het. Sy het hom ’n “diabeet”, “mother­f****r” en “rubbish” genoem en geskryf: “Ur low class white trash . . . ur diabetic trash . . . u were stink­ing.”

Kleingeld sê in hofstukke hy beskou dié aanmerkings as rassisties, vulgêr en neerhalend. Dit beeld hom as ’n “tweedeklasburger” uit en tas sy reg op menswaardigheid aan.

“Die gebruik van die woorde white trash is duidelik ’n verwysing na ras en kom neer op onbillike diskriminasie.”

Dis waarom hy nou die hof gevra het om haar tronkstraf op te lê. Gertzen moet vanaf 20 September vir 26 agtereenvolgende naweke Vrydae om 16:00 by die Potchefstroom-tronk aanmeld. Sy sal Sondae om 16:00 vrygelaat word.

Rapport het Gertzen by verskeie selnommers probeer bereik. ’n Vrou wat haarself as Gertzen se prokureur bekend gestel het, maar nie haar naam en van wou verskaf nie, het Rapport toe teruggebel. Die vrou het gesê Kleingeld maak Gertzen se lewe ellendig en sy vrees hom. Hulle gaan die saak nie daar laat nie.

Meer oor:  Teistering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.