Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Diere: Saak teen Modise laat vaar

Thandi Modise se aansoek dat die aanklagte van dierewreedheid teen haar teruggetrek word, is Vrydag in die Potchefstroomse streekhof toegestaan.

Dali Mpofu, Modise se advokaat, het Donderdag ’n aansoek ingevolge artikel 174 van die Strafproseswet gebring dat die aanklagte teen Modise teruggetrek word.

Mpofu het aangevoer Modise, speaker in die parlement, kan nie verantwoordelik gehou word vir die haglike omstandighede op haar plaas nie omdat sy nie daar was nie, en dus nie daarvan bewus was nie.

In antwoord hierop het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, betoog daar is geen getuienis dat Modise enige stappe gedoen het om na die diere op haar plaas om te sien of ’n plaasbestuurder aangestel het om dit te doen nie.

As eienaar van die plaas naby Potchefstroom was sy die enigste een wat die ernstige lyding van die diere, wat in Julie 2014 op die lappe gekom het, kon voorkom, is vroeër aangevoer.

Adv. Dali Mpofu en Thandi Modise Vrydag in die landdroshof in Potchefstroom. Foto: Susan Cilliers

AfriForum het Modise privaat vervolg namens die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NRDBV), nadat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) besluit het om dit nie te doen nie.

Nel het ook Vrydag aangevoer die aansoek om die klagte te laat vaar, hou nie steek nie omdat die vervolging reeds oorweldigende bewyse verskaf het dat Modise moontlik skuldig bevind kan word aan die aanklagte teen haar: dat sy haar plaas onwettig en doelbewus verlaat en daardeur omstandighede geskep het wat gelei het tot honderde diere se hongerdood en lyding.

Nel het gesê getuienis wys toestande op die plaas het minstens sedert November 2013 agteruitgegaan.

“Dit kan nie wees dat Modise niks hiervan geweet het nie. Sy moes voorsien het die diere kan ly en vrek, maar het willens en wetens haar oë daarvoor gesluit en dus doelbewus afstand gedoen van haar verantwoordelikheid om (ten minste) iemand aan te stel om na haar plaas om te sien.”

Nel het aangevoer die hof het geen weergawe van Modise nie. Sy het nog geen verklaring afgelê of getuig nie.

“Ons weet nie wanneer en hoekom sy die plaas verlaat en wat sy gedoen het wanneer sy gebel is oor probleme daar nie. Ons weet wel sy het openbare amptenare soos haar sekretaresse en Patrick Chauke misbruik (vir reëlings met die plaas). Ons het geen ander name nie en daar is geen getuienis oor ’n plaasbestuurder nie.”

gerrie nel
Advokate Gerrie Nel en Phyllis Vorster, AfriForum se regspan, Vrydag in die Potchefstroomse streekhof. Foto: Susan Cilliers

Chauke was ’n hooggeplaaste in die Noordwes-regering toe Modise in 2014 die provinsie se premier was. Hy het op haar plaas opgedaag om haar te verteenwoordig ’n dag nadat die NRDBV die skokkende toestande op haar verlate plaas aangetref het.

Nel het gesê “dit sal ’n hartseer dag wees” indien die skuld vir die probleme op Modise se plaas op die plaaswerker Tebogo Mokaedi gepak word.

Mpofu het aangevoer Mokaedi is die een wat eintlik aangekla moes word omdat hy die plaas verlaat het.

Mokaedi het getuig hy het die plaas einde Junie 2014 verlaat nadat hy vir tien weke nie betaal is nie, die voer opgeraak en varke gevrek het.

Hy is deur Wendy (Modise se sekretaresse) aangestel.

Nel het daarop gewys dat Modise beweer sy het Mokaedi nie aangestel of betaal nie. Hy het net ’n gr. 4-kwalifikasie en geen noemenswaardige ondervinding van plaaswerk gehad nie, maar was alleen op die plaas. “Indien Modise mense as tussengangers aangestel het wat ongekwalifiseerdes aanstel, is sy steeds verantwoordelik,” het Nel aangevoer.

“Mokaedi se teenwoordigheid is onbeduidend, want al sou hy aanbly, sou ten minste die varke (wat nie diere is wat wei nie) in elk geval gevrek het. Hy kon niks doen nie, want daar was nie voer nie.”

Nel het ook aangevoer die voertekorte het al ontstaan lank voordat Mokaedi in Mei 2014 op die plaas gaan werk het.

“Die voedingkundige Ferdi van Aswegen het getuig hy het al in November 2013 gesien die varke is maer, vrek en dat van die varke dooie varke eet. Hy het ook gesien daar is te min voer. Daar is geen getuienis dat Modise ooit hierna navraag gedoen of op die plaas was nie.”

Van Aswegen het vroeër getuig hy kon Chauke nie in die hande kry om te laat weet van die voertekorte nie, maar hy het Agri Noordwes gevra om die inligting deur te gee. Nel het ook op getuienis gewys dat ene Shadrack met Mokaedi se aankoms op die plaas gesê het hy voer die varke net elke tweede dag sodat die voer moet hou.

Volgens Nel sou dit belaglik wees om Kharabo Thloale se getuienis te aanvaar dat hy meen daar was wel genoeg voer op die plaas omdat Thloale geen landbou-agtergrond het nie en erken het hy het nie eens die diere en hoeveelheid voer getel nie. Thloale meen Mokaedi het die voer onoordeelkundig bestuur.

Thloale, ’n kennis van Wendy, het Mokaedi gewerf en na die plaas geneem.

Nel het Van Aswegen se getuienis oor hoeveel voer nodig was, gebruik om berekeninge te doen om te bepaal of daar wel genoeg voer was. Hy voer aan dokumentasie bewys Modise het nié genoeg voer gekoop nie en dat die diere sedert November 2013 met tussenposes vir dae en selfs langer as ’n week nie voer gehad het nie.

Klagstaat

Luidens die klagstaat moes die NRDBV in Julie 2014 meer as 224 erg verswakte diere op Modise se plaas van kant maak.

Daar was meer as 147 varke, 59 skape, 11 lammers, 54 bokke en ganse op die plaas.

Dr. Sameer Abbas, ’n veearts, het getuig dit lyk of van die diere wie se verrottende oorblyfsels in Julie 2014 op die plaas gevind is, omtrent 18 maande tevore al gevrek het.

Abbas het getuig die meeste van die diere was erg verswak en ondervoed.

Baie het reeds gevrek.

Meer oor:  Hof  |  Dieremishandeling  |  Dbv  |  Thandi Modise-Saak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.