Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Solidariteit: 'Net Engels in howe ondermyn taalvryheid'

Suid-Afrikaanse regspraktisyns moet in staat wees om hul kliënte en hul belange in die tale te dien waarmee dié kliënte vertroud en gemaklik is.

Daarom is dit ingesluit in die Grondwet en die Regspraktykraad (RPR) se plig om dit na te kom.

Die voortdurende “geveg” om nie net Engels as amptelike voertaal in die howe te gebruik nie, het Dinsdag uitgekring met Solidariteit se beroepsgilde vir professionele regslui en die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) wat kommentaar op die RPR se voorgestelde konseptaalbeleid gelewer het.

Solidariteit en die VRA het die RPR in 2019 voor die hof gedaag nadat die raad besluit het dat net Engels as voertaal gebruik sou word. Een van die RPR se besluite was dat toelatingseksamens in geen ander taal as Engels afgelê mag word nie.

Die saak is buite die hof geskik en die RPR het dié konseptaalbeleid saamgestel en dit Maandag vir kommentaar gepubliseer.

Die VRA en die beroepsgilde het die konsepbeleid bestudeer en aktief deelgeneem aan die proses, met spesifieke verwysing na art. 4.1 van die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale (Wet no. 12 van 2012) en die taalbeleidvereistes.

Foto ter illustrasie. Die hoftolk Jeremiah Tollie kan al 11 tale praat. Foto: Alet van der Walt

Henru Krüger, sektorhoof van die beroepsgilde, sê hulle het skriftelik kommentaar daarop gelewer en is nie ten gunste van die voorgestelde taalbeleid nie. Hulle het ook ’n klag by die Taalraad ingedien en voer aan die RPR het nie die regte proses gevolg om die voorgestelde taalbeleid saam te stel nie.

Krüger voer aan dat die RPR met hierdie taalbeleid “poog om die gebruik van amptelike tale in sy werksaamhede so te reguleer dat die beginsel van taalvryheid ondermyn word”.

Verder is dit duidelik dat hoewel die konsepbeleid melding maak van die bevordering van veeltaligheid die beleid dit ook prontuit stel dat die RPR net Engels as taal van administrasie sal aanvaar.

Krüger voer aan ingevolge art. 6(4) van die Grondwet, saamgelees met art. 30 en art. 31, moet praktisyns hul onderskeie gemeenskappe nie net in ’n taal van hul keuse kan dien nie, maar het hulle ook die reg om hul firmas op maniere te bedryf wat vir hulle voordelig is.

Die RPR moet nou alle kommentaar op die beleid nagaan en besluit of dit so aanvaar sal word, en of hy die beleid moet oor opstel.

Die RPR het die mag om beleide goed te keur wat dan in die Staatskoerant gepubliseer word.

Meer oor:  Solidariteit  |  Vra  |  Henru Krüger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.