Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Neutboer moet R1,5 m. kry ná brand in boord

’n Pekanneutboer (76) moet R1,5 miljoen kry nadat sy boord in ’n brand vernietig is, na bewering as gevolg van die nalatigheid van ’n sentrum vir die behandeling van alkohol en dwelmafhanklikheid.

Gordon Leslie Bredenkamp van Cullinan het ’n verstekvonnis teen die Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling en die hoof van die Dr. Fabian en Florence Ribeiro-behandelingsentrum in Cullinan bekom vir die betaling van skadevergoeding van R1 525 335.

Rente op dié bedrag moet bereken word vanaf 14 Maart 2016 tot die datum waarop die geld betaal word.

Die hof het die LUR en die sentrum ook beveel om Bredenkamp se regskoste te betaal.

Luidens Bredenkamp se hofstukke is die verweerders op 30 November 2016 gedagvaar, maar hulle het geen kennisgewing ingedien dat hulle die eis teenstaan nie.

Bredenkamp is van die plaas Hartebeestfontein by Cullinan. Die Dr. Fabian en Florence Ribeiro-behandelingsentrum is in Magaliesoord langs die Zonderwaterpad in Cullinan geleë.

Bredenkamp sê daar is gereeld veldbrande in dié omgewing wanneer dit droog en winderig is. Die winter en vroeë lente van 2015, ook in September daardie jaar, was droog.

Die LUR en die sentrum mag nie ’n brand in die brandseisoen op hul plaas veroorsaak nie, veral nie op dae met ’n hoë brandgevaar nie.

Bredenkamp sê hulle moes voorsien het dat ’n veldbrand op hul plaas maklik kan versprei na buurplase soos syne en hulle moes voorsorgmaatreëls getref het om dit te keer.

Op Donderdag 1 September 2015 het ’n brand of brande op die sentrum se plaas ontstaan. Dit het onbeheerbaar na Bredenkamp se plaas versprei waar dit omvangryke skade aangerig het.

Hy sê die brand het versprei weens die sentrum se “onregmatige en nalatige optrede”. Hulle het nie die brand of brande op hul plaas geblus toe hulle daartoe in staat was om dit te doen nie. Hulle het “toegelaat” dat die brand voortgaan toe dit “steeds klein en beheerbaar was”. Dit het toe buite beheer geraak en versprei.

Hy sê die plaas het nie behoorlike brandpaaie gehad nie. Daar was ook nie brandbestrydingstoerusting en opgeleide brandbestrydingsbeamptes by die sentrum nie.

Volgens Bredenkamp moes hy 167 pekanneutbome laat vervang en 213 ander beskadigde bome behandel.

Hy het een seisoen se oes van R1 395 645, asook weiveld wat hy verhuur het, in die brand verloor. Die weiveld wat vernietig is het tot ’n inkomsteverlies van R50 000 gelei.

Meer oor:  Cullinan  |  Eis  |  Brand  |  Vergoeding  |  Brandskade
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.