Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
NVG, minister moet opdok ná onderwyser se aanhouding

Patrick Buthelezi was 13 maande lank verhoorafwagtend in die tronk vir ’n misdaad waarvan hy uiteindelik vrygespreek is.

Die hooggeregshof in Pietermaritzburg het nou gelas dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die minister van polisie skadevergoeding aan hom betaal. Die bedrag moet nog vasgestel word.

Luidens hofdokumente is Buthelezi in 2011 aangehou op ’n aanklag wat verband hou met die verkragting van ’n 9-jarige meisie. Die meisie was ’n leerling aan die skool in Umlazi, Durban, waar Buthelezi ’n onderwyser was.

Buthelezi is op 21 November 2011 by die Bhekithemba-polisiekantoor in hegtenis geneem. Hy is self na die polisiekantoor nadat hy in kennis gestel is dat die polisie by die skool na hom gesoek het.

Ondanks die verontskuldigende aard van die verklaring, is die inhoud daarvan nie tydens die borgaansoek voor die hof geplaas nie.

Op 12 Desember is borgtog in die landdroshof geweier omdat Buthelezi van ’n bylae 6-misdryf aangekla is.

Buthelezi was in aanhouding tot die afhandeling van sy verhoor op 14 Desember 2012, waar hy vrygespreek is.

Buthelezi het in sy siviele eis gesê die ondersoekbeampte in die saak, ao. Mathengela, het nie tydens die borgtogaansoek die hof se aandag gevestig op “onbevredigende kwessies” in die klaagster se getuienis nie.

Buthelezi het ook aangevoer dat die polisiebeampte wat hom in hegtenis geneem het, die ondersoekbeampte en die staatsaanklaer wat aangewys is om die borgtog teen te staan, almal geweet het van dié onbevredigende kwessies, maar dit nie onder die aandag van die hof gebring het nie.

Regter Mahendra Chetty sê in sy uitspraak “hulle was bewus daarvan dat ’n mede-onderwyser by die skool, me. Mkhize (wat volgens die klaagster die voorval of ’n deel daarvan gesien het), in ’n verklaring ontken het dat sy enige sodanige voorval gesien het”.

“Ondanks die verontskuldigende aard van die verklaring, is die inhoud daarvan nie tydens die borgaansoek voor die hof geplaas nie.”

Chetty meen die hof het borgtog geweier omdat hy mislei is.

Hy sê die ondersoekbeampte was uit die staanspoor van plan om borgtog teen te staan, en hy het ’n deurslaggewende rol gespeel om belangrike bewysstukke van die hof te weerhou.

Chetty het gelas dat die NVG en die minister ook Buthelezi se regskoste betaal.

Die NVG was teen publikasietyd nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Meer oor:  Ngv  |  Pietermaritzburg  |  Onderwyser  |  Aanhouding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.