Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Nico Nel skuldig aan diefstal, gevonnis

Nico Nel, voormalige Maak ’n las-grapmaker, is Woensdag in die streekhof in Worcester ná ’n pleit-en-vonnisooreenkoms met die staat op ’n enkele aanklag van diefstal skuldig bevind.

Nel (66) het aanvanklik op ’n aanklag van diefstal en ’n aanklag van bedrog tereg gestaan. Die klagstaat is Woensdag inderhaas aangepas nadat die staatsaanklaer aan die hof gesê het dat die aanklagte ’n duplikasie van mekaar is.

Hy is tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis. Die korrektiewe toesig moet hy onder huisarres by sy huis in Wellington in die Boland deurbring.

Nico Nel met ’n vorige hofverskyning in Worcester. Foto: Jaco Marais

Hy is ook ’n verdere agt jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar, opgelê. Hy mag in dié tydperk nie op enige ander misdrywe van diefstal of bedrog skuldig bevind word nie.

Sou dit gebeur, sal sy opgeskorte vonnis opgehef word en sal hy die agt jaar vonnis in ’n tronk moet uitdien.

Nel moet ook die meer as R1,8 miljoen wat hy by sy suster, Klaradyn Augustyn (73) van Worcester, gesteel het, aan Old Mutual terugbetaal.

Old Mutual het sy suster reeds ’n bedrag van meer as R2 miljoen terugbetaal.

Nel, wat toe ’n finansiële adviseur by Old Mutual was, was veronderstel om die bedrag van R1,86 miljoen wat Augustyn vanaf 3 September 2012 tot 13 Februarie 2015 aan hom oorbetaal het, namens haar by Old Mutual belê.

Hy het egter die geld gebruik vir sy persoonlike uitgawes en om sy skuld te betaal.

Nel het Woensdag, voordat sy vingerafdrukke geneem is, die hof bedank en gesê hy beskou sy vonnis as ’n tweede kans wat hom gegun is.

Die landdros het oor haar bril na hom gekyk en gesê: “Mnr. Nel, ek hoop jy gebruik dit.”

Sy het gesê sy weet daar is mense wat gaan dink dat die straf te lig is, maar sy is seker dat die wolk van tronkstraf genoeg behoort te wees om Nel daarvan te weerhou om hom weer aan so ’n misdryf skuldig te maak.

Netwerk24 het vroeër berig dat Old Mutual in 2016 klagtes ontvang en met ’n ondersoek begin het.

Nel en sy suster het daarna ’n vertroulike ooreenkoms aangegaan, en Nel se saak is onder die aandag van die polisie en die destydse Raad op Finansiële Dienste gebring.

Hy moet as deel van sy vonnis ook die geld in drie paaiemente oor drie jaar aan Old Mutual terugbetaal. Die eerste paaiement van R620 000 is betaalbaar voor of op 31 Oktober 2020. Daarna moet hy teen 31 Oktober 2021 nog ’n paaiement van R620 000 aan Old Mutual betaal en die derde paaiement van dieselde bedrag voor of op 31 Oktober 2022.

Nog aanklagte teen Nel

Nog aanklagte teen Nel

Netwerk24 het in Augustus vanjaar berig Nel word deur nog ’n klag van diefstal en een van bedrog in die gesig gestaar.

Twee speurders van die Gansbaai-polisiekantoor het met sy hofverskyning op 6 Augustus by die streekhof in Worcester opgedaag. Hulle was volgens inligting daar om ’n waarskuwingsverklaring by Nel te bekom.

Luidens inligting het die beweerde bedrog in 2016 plaasgevind. Nel het na bewering sowat R3 miljoen van ’n egpaar van Gansbaai verduister wat hy namens hulle moes belê. ’n Ooreenkoms is glo aangegaan vir hom om die geld terug te betaal. Bronne sê dat hy aanvanklik R1 000 per maand betaal het. Die betaling het later glo tot R2 500 per maand gestyg, maar daarna glo in 2018 net opgehou.

Die ondersoek hierna duur voort.

Sy regsverteenwoordiger, adv. Sakkie Maartens, het aan die hof gesê kennisse wat Nel oor die jare as TV-persoonlikheid geken het, sy aandeel in ’n slaghuis in Prince Alfred Hamlet buite Ceres en sy dogter wat in New York woon, het gesê dat hulle hom gaan help om sy skuld te vereffen.

Nel het ook aan die hof gesê dat hoewel uitnodigings om op te tree vanaf 2016 verminder en amper opgedroog het, hy nou weer begin uitnodigings kry. Vir die optredes kan hy volgens hom tot R15 000 per optrede vra. Hy gaan ook dié geld gebruik om sy skuld aan Old Mutual te vereffen.

Nel het in sy pleitooreenkoms erken dat hy sy suster se geld wanaangewend het. Hy het besef dat sy optrede haar finansieel sou raak, maar het voortgegaan om haar onder die indruk te bring dat haar geld veilig by Old Mutual belê is.

Hy het haar verder onder dié indruk gehou deurdat hy vanaf Maart 2015 tot Maart 2016 ’n bedrag van R85 398 aan haar oorbetaal het. Dit was glo rente op die “belegging” wat nooit bestaan het nie. Dit was glo ’n gemiddelde bedrag van sowat R10 000 per maand.

Luidens die pleitooreenkoms het hy tussen 2008 en 2009 en daarná sakebesluite geneem wat nie vir hom uitgewerk het nie. Daar was die koop van ’n kleinhoewe by Ceres vir ’n bedrag van R2,4 miljoen. Hy sou die koop van die kleinhoewe finansier met die beoogde R3 miljoen wins uit die verkoop van sy Eversdal-huis in Kaapstad se noordelike voorstede. ’n Wins van net R1,8 miljoen is egter daarop gemaak. Daar was ’n gesloer met die verkoop van die huis en vir langer as ’n jaar moes hy okkupasiehuur van nagenoeg R40 000 per maand vir die Ceres-hoewe betaal.

Hy het ook ’n perseel in Prince Alfred Hamlet gekoop van waar hy sy boerewors wou maak en bemark. Hy het R680 000 vir die perseel betaal en meer as R800 000 bestee om dit op te knap. Dié geld het hy met ’n privaat lening bekom.

Daar was ook die aankoop van ’n perseel in Sutherland vir R480 000, en R300 000 wat hy bestee het aan die ontwikkeling en patentering van ’n toestel wat ys maak. Al die geld hiervoor het hy deur privaat lenings bekom, wat hy later nie meer kon terugbetaal nie.

Benewens die huisarres moet Nel die drie jaar waaronder hy onder korrektiewe toesig is, 16 uur per week gemeenskapswerk doen. Hy mag sy huis net verlaat om te gaan werk, kerk toe te gaan of deel te neem aan programme wat die departement van korrektiewe dienste voorstel.

Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Meer oor:  Nico Nel  |  Worcester  |  Skuldig  |  Hof  |  Uitspraak  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.