Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ninow badkamer toe ‘om dwelms te gebruik’

Nicholas Ninow het op 22 September 2018 na die vrouebadkamer in die Dros-restaurant in Silverton, Pretoria, gegaan om skelm dwelms te gebruik.

Hy het gehoop dat die restaurantbestuurder hom nie daar sou kom soek nie.

Nicholas Ninow het Maandag in die hooggeregshof in Pretoria verskyn. Foto: Dean Vivier

“Ek het my broek afgetrek om die indruk te skep dat ek die toilet gebruik en (die dwelm) Cat geneem. Ek het ook my hemp uitgetrek, want dit was sweterig,” het hy Maandag in die hooggeregshof in Pretoria in sy pleitverduideliking gesê.

Toe stoot die sewejarige meisie die toilethokkie se deur oop en sê sy moet urineer.

Ninow het, volgens sy weergawe, opgestaan van die toilet, haar broekie vir haar afgetrek en haar op die toiletsitplek getel.

“Op daardie oomblik het ek impulsief opgetree en . . .” Dan verduidelik hy hoe hy die meisie oraal verkrag en sy vingers in haar private deel gedruk het.

Oomblikke later het haar ma en ander mense ingestorm.

Hoewel Ninow Maandag skuld beken het op dié twee aanklagte van verkragting, het die staat dit nie aanvaar nie, omdat sy pleit nie die presiese omstandighede van die misdaad uiteensit nie en verskil van die klaagster se weergawe.

Nicholas Ninow se ouma, Pauline Gericke, het die eerste keer ’n hofverskyning van hom bygewoon. Foto: Deaan Vivier

Ninow het ook skuld beken op ’n aanklag van regsverydeling waar hy die meisie se broekie in ’n toilet probeer wegspoel het en die besit en/of gebruik van dwelms. Hy het egter skuld ontken op ’n aanklag dat hy mense met sy gordel probeer aanrand het toe hy betrap is.

Hy het in sy pleitverduideliking beken dat hy geweet het sy optrede is verkeerd, en dat hy nie aan ’n geestesversteuring ly nie.

Reg agter hom, in die openbare galery, het sy ouma, Pauline Gericke, gesit, omring deur lede van vroue- en kinderregteorganisasies en die ANC-vroueliga. Sy het verwese voorgekom en volgens bronne baie gehuil voordat haar kleinseun koponderstebo vanuit die aanhoudingselle na die beskuldigdebank gebring is.

Die staat het nadat Ninow gepleit het, ’n kelnerin van die Dros-restaurant as getuie geroep. Sy mag nie geïdentifiseer word nie.

Volgens die kelnerin het Ninow tussen omstreeks 15:00 en 16:00 die restaurant ingekom. Sy onthou hoe baie hy gedrink het en dat hy in ’n stadium by ’n tafel naby die kinderspeelgebied gaan sit het. Hy het later uitgegaan en saam met ’n man ingestap gekom, wat hy sy “oom” genoem het.

Die kelnerin is net ná 17:00 na die vrouebadkamer. Die eerste toilet was buite werking. Die tweede een se deur was ook toe, en toe sy daarteen druk, het die persoon binne teruggedruk.

“Die slagoffer se ma het ingekom en die kind se naam geroep. Daar was geen antwoord nie. Die ma het weer geroep en gevra of ek haar dogter gesien het.

“Die (restaurant se) kinderoppasser en twee kelnerinne het ingekom. Hulle het gesê hulle soek ’n kind en het ook teen die toiletdeur gedruk. Die persoon binne het weer teruggedruk.

“Die kinderoppasser het aan die deur geklop. Niemand het geantwoord nie. Ons kon hoor iemand is in die toilethokkie.

“Die kind se ma het bly sê: ‘Maak oop! Maak oop!’ Ons het almal teen die deur gedruk en dit op ’n skrefie oopgekry,” het die kelnerin getuig.

Daar was ’n man in die toilethokkie. Sy bolyf was kaal. Hy het sy gordel in die hand gehad en na hulle geslaan.

“Ons het ’n kind hoor huil en na haar ma roep. Ons het begin skree,” het die kelnerin bygevoeg.

Die staat het Maandag ’n klag van ontvoering teen Nicholas Ninow teruggetrek. Foto: Deaan Vivier

Ninow het na die mansbadkamer gehardloop.

Johan Fourie, die sogenaamde “oom”, het daarna getuig. Volgens hom was hy in die parkeerterrein toe ’n man wat hy van geen kant af ken nie, op hom afgestap kom en sê hy wil met hom praat.

Hy het gesê die man kan dit in die Dros doen en het aangestap. Die man, wat hy later as Ninow uitgewys het, het by hom kom sit en vir hom ’n bier gekoop.

“Hy het my vertel hy is ’n miljoenêr, want hy het geërf van sy ouers. Ek kon in sy oë sien hy gebruik dwelms. Hy het ook sy hand in sy broeksak gesteek en dwelms uitgehaal,” het Fourie getuig.

In ’n stadium het ’n vrou verbygestap. Ninow het glo gesê: “Daai vrou het ’n lekker gat. Ek sal dit like om haar te sp***r”.

Hy het, toe Ninow opstaan om badkamer toe te gaan, geloop en by ’n ander tafel gaan sit.

“Toe hoor ek mense skree. Die man (Ninow) was naak en het geskree. Daar was bloed aan hom en op die vloer. Ek het die polisie gebel,” het Fourie gesê.

Die verhoor gaan Dinsdag voort.

* Die staat het intussen die aanklag van ontvoering teen Ninow teruggetrek.

Herman Alberts, Nicholas Ninow se prokureur. Foto: Deaan Vivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.