Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ninow het vooraf gedagte gehad om seks te hê, sê staat

Nicholas Ninow het in sy kop reeds die gedagte geformuleer dat hy sal seks hê, maak nie saak met wie nie. Hy sou sy seksuele lus bevredig.

Nicholas Ninow se ouma, Pauline Gericke, praat met lede van die ANC-vroueliga nadat die hof verdaag het. Foto: Deaan Vivier

Dit was Donderdag deel van adv. Dorah Ngobeni, staatsaanklaer, se betoog dat Ninow op 22 September 2018 nié impulsief opgetree het nie toe hy ’n sewejarige meisie in die vrouebadkamer van ’n Dros-restaurant verkrag het.

“As ’n mens na die omstandighede kyk wat die voorval voorafgegaan het, blyk dit die beskuldigde het die hele voorval beplan, gemik op ’n kind wat weerloos en kwesbaar is,” het Ngobeni aangevoer.

Die staat se argumente volg nadat Ninow se skulderkenning op die twee aanklagte van verkragting verwerp is.

Luidens die beskuldigde se pleitverduideliking het hy na die vrouebadkamer gegaan omdat hy dwelms wou gebruik en bang was dat die restaurantbestuurder hom sou betrap.

Volgens hom was hy reeds in die toilethokkie toe die meisie ingestap het. Hy het glo “impulsief” opgetree toe hy haar verkrag het.

Ngobeni het tydens haar betoog na getuienis verwys dat Ninow vroeër daardie dag gereeld van tafel verwissel het, insluitend ’n keer na waar hy die kinderspeelarea duidelik kon sien.

Hy het later by die kroeg gaan sit en met ’n man, Johan Fourie, gesels. Fourie het getuig dat Ninow in ’n stadium na ’n (vreemde) vrou, wat saam met ’n metgesel was, verwys het en gesê het hy sou “like om haar te sp**er”.

“Die beskuldigde maak ’n baie vreemde opmerking wat seksuele omgang suggereer. Die staat sal aanvoer dat hy reeds die gedagte om seks te hê, maak nie saak met wie nie, in sy kop geformuleer het.

“Hy wys ook, voor mnr. Fourie, sy dwelms aan die restaurantbestuurder. Hoekom, as hy dit sou doen, wil hy vir die einste bestuurder in die vrouebadkamer gaan wegkruip om sy dwelms te gebruik?” het die aanklaer gevra.

Nicholas Ninow, wat aangekla word van die verkragting van ’n sewejarige meisie, verlaat die hooggeregshof in Pretoria nadat die saak tot Maandag uitgestel is. Foto: Deaan Vivier

Ngobeni het toe verwys na die kind se getuienis, wat gesê het sy het reeds op die toilet gesit toe Ninow in die toilethokkie ingestap het.

“Die kind het getuig dat hy haar ook gedreig het, daarom kon sy nie antwoord toe haar ma haar (later) geroep het nie. Die staat vra dus die hof om, op grond van die omstandighede wat die verkragtings voorafgegaan het, te bevind dat die beskuldigde vroeër die kinderspeelarea dopgehou het, op soek na prooi.

“Hy het toe die klaagster die badkamer sien ingaan, haar gevolg, homself ontklee, haar gedreig en verkrag,” het Ngobeni aangevoer.

Oor die aanklag van aanranding, waarop Ninow ontken het dat hy twee Dros-werknemers met sy gordel geslaan het toe hy betrap is, het Ngobeni betoog dat selfs net die dreigement om hul te slaan neerkom op aanranding.

“Die feit dat van die staatsgetuies mekaar weerspreek, beteken nié dat hul weergawes vals is nie,” het die aanklaer gesê.

Herman Alberts, die prokureur wat die Regshulpraad vir Ninow aangestel het, het betoog dat Ninow voor die voorval baie van sitplek in die restaurant verwissel het.

“ ’n Mens kan nie sê omdat iemand (in ’n stadium) by ’n sekere tafel sit hy jag gemaak het (op kinders) nie. Hy het later by die kroeg gaan sit, wat so ver van die kinderspeelarea is as wat ’n mens kan kry,” het die prokureur aangevoer.

Hy het bygevoeg dat daar dwelmpoeier op die toiletvloer gevind is, wat ooreenstem met Ninow se weergawe dat hy soontoe is om dit te gebruik.

Uitspraak word Maandag gelewer.

Ninow se ouma

Ninow se ouma, Pauline Gericke, het soos elke dag sedert die verhoor begin het, in die openbare galery gesit. Luidens bronne is sy die een wat hom meestal as kind onder haar vlerk geneem het, ook toe sy destydse meisie swanger geraak het.

Gericke sou die afgelope week by tye huil, vir Ninow ’n drukkie probeer gee, en haar kop laat sak en haar ore toedruk as die kameras kliek en die slagoffer se ondersteuners, meestal lede van die EFF en ANC-vroueliga, opmerkings maak.

Donderdag was die hof so volgepak dat sy nie eenkant toe kon skuif nie, maar tussen die ondersteuners gesit het.

Langs haar was Dlozi Nkosi, geklee in ’n hemp met oudpres. Jacob Zuma se gesig op. Nkosi het iets vir die ouma gefluister. Gericke het geknik. Die twee het fluisterend begin gesels voor die hof begin het.

Ná die tyd het Nkosi vertel: “Ek voel jammer vir die ouma. Sy het nie haar kleinseun hierdie goed (die misdrywe) maak doen nie. Dit is nie haar fout nie.

“Sy het vir my gesê sy is baie hartseer en daar is niks wat sy kan doen nie. Daarom het ek vir haar gesê as moeder verstaan ek en moet sy sterk bly. Ons is kwaad vir hóm (Ninow). Nie vir haar nie”.


Meer oor:  Dros  |  Nicholas Ninow  |  Silverton  |  Verkragting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.