Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ninow: Meisie het uit toilet geroep, lui akte

Die sewejarige meisie het op 22 September verlede jaar uit die toilethokkie in die Dros-restaurant se vrouebadkamer geroep en geroep.

Nicholas Ninow
Nicholas Ninow verskyn in die landdroshof in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Haar ma en ander mense het die toiletdeur probeer oopstoot, maar iemand het dit van binne toegedruk.

Toe hulle uiteindelik die deur oopkry, het hulle Nicholas Ninow en die kind, albei glo halfpad ontklee, in die hokkie gevind.

Die meisie se ma het haar gegryp.

Ninow het intussen na bewering die meisie se broekie in die toilet probeer wegspoel.

Tussendeur het hy glo met sy gordel na die ontstoke mense geslaan wat hom wou aankeer.

Hyself is aangerand voordat hy in hegtenis geneem is.

Die kind is dieselfde dag na ’n dokter geneem. Haar geslagsdele was geswel, gekneus en geskeur.

Dít is die opsomming van die staat se bewerings teen Nicholas Andrew Ninow luidens die akte van beskuldiging wat Dinsdag in die landdroshof in Pretoria aan hom beteken is.

Die saak teen hom is nou na die hooggeregshof in Pretoria oorgeplaas waar hy van 9 tot 20 September sal teregstaan op aanklagte van verkragting, ontvoering, die besit en/of gebruik van die dwelmmiddel CAT, aanranding en regsverydeling.

Luidens die akte was die slagoffer, toe sewe jaar en tien maande oud, die dag van die voorval saam met haar ma by die gesinsrestaurant in Silverton, Pretoria.

Dit was laatmiddag. Die kind het badkamer toe gegaan. Ná ’n rukkie het haar ma bekommerd geraak en haar begin soek – totdat sy die meisie uit die vrouebadkamer hoor roep het.

Die klag van ontvoering kom omdat Ninow glo die kind van haar bewegingsvryheid ontneem het deur haar in die toilethokkie vas te keer.

Die aanklag van aanranding verwys na die bewering dat Ninow die mense wat hom wou aankeer, glo met sy gordel probeer slaan het.

’n Aanklag van regsverydeling is bygevoeg omdat hy moontlike bewysstukke probeer vernietig het deur die meisie se broekie in die toilet te probeer wegspoel.

Luidens die akte van beskuldiging sal die staat dalk ’n aansoek bring dat ’n tussenganger vir die kind aangestel word om haar tydens die verhoor by te staan.

In so ’n geval getuig ’n kind uit ’n kamer, met kringtelevisiekameras toegerus, met die hulp van die tussenganger wat die vrae tydens die verhoor in verstaanbare terme aan haar oordra.

Die jong getuie hoef dan ook nie in die teenwoordigheid van die beskuldigde te wees nie.

Sekere dele van die verhoor mag dalk ook in camera, weg van die openbare oog, geskied weens die betrokkenheid van ’n minderjarige en die verwagte sensitiewe aard van die getuienis.

Ninow het Dinsdag, weer koponderstebo, die beskuldigdebank uit die aanhoudingselle in die landdroshof ingestap sodat die hooggeregshofdokument aan hom beteken kon word.

Die openbare galery was stampvol met die lede van kinderregteorganisasies en politieke partye.

Van hulle het hom luid toegesnou: “Show your face!” en “You must die!” totdat die landdros ingestap het.

Adv. Sanet Jacobson, staatsaanklaer, het aan landdros Ignatius du Preez gesê die akte is gereed en die saak kan vir verhoor na die hooggeregshof oorgeplaas word.

Riaan du Plessis, Ninow se prokureur van Regshulp SA, het op vrae van Du Preez gesê Regshulp SA sal die beskuldigde steeds in die verhoor verteenwoordig. Hy het ’n lys van moontlike getuies vir die verdediging wat hulle kan roep, voorsien.

Ninow se taalvoorkeur vir die verhoor is Afrikaans.

Die saak is toe uitgestel tot 9 September vir die verhoor in die hooggeregshof.

• Ninow is vroeër deur ’n paneel van drie psigiaters en ’n sielkundige geskik vir verhoor bevind.

Hy het in Desember pa geword nadat sy gewese verloofde die lewe aan ’n seuntjie geskenk het. Sedertdien pryk daar óf ’n regte ring óf ’n tatoeëermerk van een aan sy linker-ringvinger.

Ninow het in Februarie sy 21ste verjaardag in die tronk gehad.

Meer oor:  Nicholas Ninow  |  Hof  |  Dros-Verkragtingsaak  |  Verkragting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.