Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Nkosazana hoef nie billik te wees – regters

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma hoef nie billik of redelik op te tree wanneer sy regulasies ingevolge die Covid19-ramptoestand uitvaardig nie, want billikheid is nie dieselfde as regverdigheid nie.

Haar rampmaatreëls hoef ook nie 100% doeltreffend te wees nie. Trouens, dit hoef nie eens die beste moontlike opsie te wees om ’n Covid-19-ramp te voorkom nie.

Dlamini-Zuma het Vrydag ’n klinkklare hofoorwinning behaal toe die dringende aansoek van die Vrye Handel Onafhanklike Tabakvereniging (Fita) teen die rookverbod deur ’n volbank van drie regters verwerp is.

Kort daarna, ook Vrydagmiddag, is ’n dringende hofaansoek van British American Tabacco (Batsa), wat Dinsdag aangehoor sou word, op versoek van Dlamini-Zuma tot 5 Augustus toe uitgestel. Gevolglik sal rokers nog minstens ses weke moet weg voordat hulle dalk weer wettiglik sigarette sal kan koop.

Selfs die feit dat die verbod nie meebring dat alle rokers ophou rook nie, beteken nie dat die verbod irrasioneel is nie.

Die rookverbod is vandag presies drie maande al van krag. As dit tot 5 Augustus van krag bly, sal die totale verlies aan aksynsbelasting vir die staat al amper R5 miljard beloop (bereken op die gewone maandelikse inkomste van R1,2 miljard).

“Die vereiste dat dit (‘n rampregulasie) rasioneel moet wees, is glad nie ’n besondere streng toets nie en moenie verwar word met redelikheid nie, selfs in gevalle waar staatsmag fundamentele reg aantas,” het regters Dunstan Mhlambo, regter-president van Gauteng, regter Daisy Molefe en regter Annelie Basson Vydag in die Fita-saak bevind.

Die drie regters het die erns van die ramptoestand beklemtoon.

“Die erns van die pandemie het ’n buitengewone toestand laat ontstaan, anders as enigiets wat die land en trouens die hele wêreld al beleef het. Regerings sukkel om die uitwerking van die siekte te verstaan. “Mediese kundiges sukkel net so om te begryp waarom sommige pasiënte meer vatbaar is vir die vernietigende uitwerking van die siekte as ander,” lui die uitspraak.

“Binne dié onvoorspelbaarheid moet die regering stappe doen wat die publiek beskerm en wat nodig is om die vernietigende uitwerking daarvan onder beheer te bring,” sê die drie regters in hul uitspraak.

Selfs al is die uitwerking van die regulasies nie perfek nie, soos dat nie almal ophou rook omdat ’n rookverbod ingestel is nie, is dit regverdigbaar in die omstandighede, het die drie regters bevind.

Die hof het die meeste van Fita se argumente verwerp, onder meer dat sigarette as noodsaaklik verklaar moet word omdat rokers daaraan verslaaf is. “Daar is geen meriete daarin nie,” het Mlambo en sy twee mede-regters bevind.

Net so is die argumente verwerp dat dit gevaarlik is vir rokers om die sigarette te rook wat hulle in die sluikhandel koop, asook die ekonomiese gevolge van die verbod, soos die verlies aan staatsinkomste en die vastrapplek wat dit aan die onwettige sigarethandel in die mark gee.

“Selfs die feit dat die verbod nie meebring dat alle rokers ophou rook nie, beteken nie dat die verbod irrasioneel is nie. Die vraag is nie of die verbod die beste moontlike manier is (om die gevolge van rook vir die gesondheidstelsel) af te weer nie, maar of die verbod op ’n rasionele manier die oogmerk kan bereik,” lui die uitspraak.

Fita het ook in die hof aangevoer dat die proses waarmee besluit is om die verbod te verleng na fase 5 van die Covid-19-inperking, onbillik was teenoor hom, want hy is nie behoorlik deur Dlamini-Zuma aangehoor in ’n proses van openbare konsultasie nie.

Die proses van openbare konsultasie geld vir die wetgewende prosesm nie vir die uitvoerende gesag (die kabinet) nie, het die regters bevind.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.