Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Nog 3 lasbriewe vir Bushiri

Nog drie nuwe lasbriewe is in die landdroshof in Pretoria vir Shepherd Bushiri, die voortvlugtende selfverklaarde profeet en sakeman, uitgereik.

Die drie lasbriewe is uitgereik vir verkragtingsake waarin Bushiri in die hof teregstaan. Hy en sy vrou, Mary, staan ook op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery tereg, berig News24.

Die egpaar bevind hulle tans in Malawi, hul geboorteland, nadat hulle onlangs hul borgvoorwaardes verbreek en uit die land gevlug het.

Hulle het hulle in Lilongwe aan die owerhede oorhandig nadat Interpol ’n lasbrief vir hul inhegtenisneming uitgereik het. Suid-Afrika wil hê hulle moet na die land teruggebring word om hier verhoor te word.

Die Malawiese polisie het die egpaar voorlopig in hegtenis geneem in afwagting op die amptelike dokumente van die Suid-Afrikaanse owerhede.

Bushiri
Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary.

’n Landdros het egter verlede week gelas dat die voorlopige inhegtenisneming onwettig is en hulle vrygelaat.

Malawi se direkteur van openbare vervolging sal in die hooggeregshof in dié land appèl teen die landdros se beslissing aanteken.

Die drie lasbriewe wat intussen deur die Pretoriase landdroshof uitgereik is, hou verband met twee verkragtingsake teen Bushiri wat in 2018 begin is en ’n derde saak van verlede jaar.

Lasbriewe is ook uitgereik omdat hulle hul borgvoorwaardes in die saak van korrupsie, bedrog en geldwassery van R102 miljoen verbreek het en hulle nie by die polisie aangemeld het nie.

Die Bushiri’s hou vol dat hulle niks verkeerd gedoen het nie. Hulle sê hulle het gevlug omdat hulle nie meer veilig was nie en is van mening dat hulle nie ’n regverdige verhoor sal kry nie.

Ondersoek word nog ingestel oor hoe die egpaar daarin geslaag het om uit die land te vlug.

’n Sondagkoerant het die naweek beweer dat hulle van diplomatieke paspoorte voorsien is en uit die land gesmokkel is.

Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, ontken dit ten sterkste.

Daar is beweer dat die Bushiri’s saam met pres.

Lazarus Chakwera van Malawi ná sy amptelike besoek aan Pretoria na Malawi gevlieg het.

News24 het vroeër berig dat Bushiri die bewerings van verkragting teen hom ontken en die Valke daarvan beskuldig dat hulle die vroue “geïntimideer” het om klagte teen hom in te dien.

Sy opmerkings het gevolg nadat twee vroue in ’n televisie-onderhoud beweer het dat hy hulle verkrag het. Dit is nog nie bekend of die drie sake van verkragting met die twee vroue verband hou nie.

Meer oor:  Shepherd Bushiri  |  Pretoria  |  Malawi  |  Lasbrief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.