Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Nóg klagte kan teen motorverkoper van Pretoria kom

Nóg klagte kan waarskynlik teen ’n Pretoriase handelaar in gebruikte motors bygevoeg word, aangesien klaers wat glo deur Shaun Quinton Dreyer (35) bedrieg is, steeds na vore kom.

Dreyer, wat luidens die voorlopige klagstaat reeds sewe aanklagte van bedrog teen hom het, het Woensdag weer in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn.

Shaun Dreyer

Geminah Mbelengwa, die aanklaer, het gevra dat die saak tot Maart uitgestel word omdat ’n kaptein van die Sinoville-polisiekantoor nou die ondersoek by die vorige ondersoekbeampte (’n konstabel) oorgeneem het.

Die kaptein moet die saak teen Dreyer met ’n senior aanklaer bespreek, want “daar is baie dossiere” (teen Dreyer), het Mbelengwa verduidelik.

Dreyer het na bewering talle mense ingeloop toe hy verskeie voertuigverkoop-“stalletjies” langs die besige Sefako Makgatho-rylaan (voorheen Zambesi-rylaan) in die Sinoville- en Montana-omgewing bedryf het.

Verkopers kon hul voertuie daar laat, wat hy dan glo teen kommissie vir hulle sou verkoop.

Luidens die klagstaat – en verskeie “moedelose” klaers wat Netwerk24 gekontak het – het hy sedert Oktober 2018 tot en met sy inhegtenisneming in September 2019 onder meer voorgegee dat voertuie wat verkopers by hom gelaat het, nog nie verkoop is nie, terwyl dit wel verkoop én daarvoor betaal is. Die geld is na bewering na Dreyer se eie sak toe.

Ander het glo vervalste registrasiedokumente ontvang nadat hulle voertuie by hom gekoop het, terwyl nog mense beweer dat hulle nooit enige “papiere” gekry het nadat ’n voertuig gekoop is nie.

Hulle kon dus nie die voertuig op hul eie naam registreer of verseker nie.

Van die klaers beweer Dreyer het een keer ook dieselfde voertuig aan drie verskillende mense “verkoop”.

“Hy het ook (glo) van die voertuie op sy naam gesit, sonder toestemming,” sê ’n ander.

Nog een vertel dat Dreyer hom genader het vir ’n belegging in een van sy ondernemings. Hy het glo vir ’n rukkie die beloofde rente op die belegging betaal, maar dit toe gestaak.

“Dit terwyl hy en sy vrou in weelde leef en vakansie hou,” het verskeie klaers aangevoer.

Toe Dreyer egter ná sy inhegtenisneming borgtog van R10 000 toegestaan word, het sy ma dit namens hom betaal.

* Dreyer het ook ’n vorige veroordeling nadat hy in April verlede jaar skuld beken het op ’n aanklag van die besit van ’n renosterhoring sonder ’n permit.

Hy is hiervoor tot vyf jaar tronkstraf of ’n boete van R100 000 gevonnis wat hy voor Maart vanjaar moet afbetaal.

Dit blyk dat hy dié boete se paaiemente getrou afbetaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.