Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Nog ’n klag teen man wat vrou (95) glo versmoor het

Vier dae voordat die 95-jarige Hester (Babsie) Cowling vermoor is, het die moordverdagte glo ook ’n ander vrou besteel.

Dit het Woensdag in die landdroshof in Pretoria bekend geword toe ’n aanklag van diefstal op die klagstaat teen Johannes Cornelius (Hannes) Fourie (47) gevoeg is.

Adv. Abel Ramokoma, die aanklaer, het gesê buiten vir inligting wat rakende Cowling se moord ingewin is, is ’n bykomende aanklag van diefstal (in ’n onverwante voorval) daardie oggend op die klagstaat gevoeg.

Hiervolgens het Fourie op 1 Desember 2019 onder meer ’n skootrekenaar en bougereedskap van meer as R10 000 van ’n mev. Papenfus gesteel. Dit is vermoedelik dieselfde vrou by wie hy in Flowerstraat, Capital Park, geloseer het nadat hy uit die tronk – vermoedelik op parool vir ’n ander saak – vrygelaat is.

Hester (Babs) Cowling (95)

Mev. Papenfus is glo ook ’n familielid van die veroordeelde moordenaar Gerhard Papenfus, met wie Fourie in die tronk bevriend geraak het.

Op 5 Desember is Cowling, wat ook in Flowerstraat gebly het, “deur iemand bekend aan haar” vermoor. Sy is vermoedelik met ’n plastieksak versmoor en haar bankkaart en kontant is gesteel.

Fourie is later daardie dag in hegtenis geneem. Hy het kort daarna in die hof verskyn op aanklagte van moord en huisbraak met die opset om te roof.

Die saak teen hom is later na Woensdag uitgestel vir ’n borgtogaansoek.

Intussen het dit bekend geword dat hy glo etlike vorige veroordelings het, meestal vir huisbraak en diefstal wat vanaf 1992 tot 2013 strek.

Woensdag het Ramokoma in die hof aangevoer dat die staat Fourie se aansoek om borgtog sal teenstaan nadat hy die ondersoekbeampte gekonsulteer het en ingelig is oor “nuwe bewyse wat gevind is”.

“Voorts het die direkteur van openbare vervolging reeds laat weet dat dié saak, hoewel die ondersoek nog nie afgehandel is nie, in die hooggeregshof verhoor sal word,” het hy gesê.

Die polisie soek die man met die donker hemp en kappiebaadjie, hier gesien waar hy vermoedelik met Hester (Babsie) Cowling se kaart geld in Eersterust, oos van Pretoria, trek.

Fourie het daarna besluit om nie met sy aansoek om borgtog voort te gaan nie.

Die saak is vir verdere ondersoek tot Maart uitgestel.

*Gerhard Papenfus en drie medepligtiges is in 2018 lewenslange tronkstraf vir die moord op Danie Dreyer (62), ’n oud-Springbok-stoeier en -polisieman, opgelê.

Dreyer se lyk is in April 2016 in ’n mangat naby Papenfus se huis, ook in Flowerstraat, gevind.

Luidens bronne het Fourie, ná sy vrylating uit die tronk, by ’n familielid van Papenfus tuisgegaan.

*Intussen soek die polisie steeds na ’n man wat die dag ná Cowling se moord glo haar bankkaart gebruik het.

Hy word in dié stadium nie met die moord verbind nie, omdat die moordenaar vermoedelik eers alleen opgetree het, en later, volgens beeldmateriaal, Cowling se bankkaart aan die ander man oorhandig het.

Beeldmateriaal is bekom waar Fourie saam met dié onbekende man geld by ’n kitsbank in die Pick n Pay-sentrum in Eersterust, oos van Pretoria, trek.

Die polisie glo dié onbekende man kan in die moordondersoek help.

Mense met inligting kan die Wonderboompoort-polisiekantoor by 012 335 2812 skakel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.