Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Nommerplaat ‘gekloon’ vir ‘sameswering’, hoor hof

“Iemand” het Ndumiso Joshua Jaca van die Tshwane-metropolisie se persoonlike nommerplaat “gekloon” en die hofsaak teen hom is deel van ’n “sameswering” teen hom.

Dit is hoe die geskorste direkteur en adjunkhoof van die Tshwane-metropolisie Donderdag in die streekhof in Pretoria verklaar het hoe die nommerplaat “Balty GP” op ’n BMW Z4 – identies aan syne – op tolhek- en spoedlokval-foto’s verskyn het voordat hy dit wettig geregistreer het.

Jaca het vroeër skuld ontken op twee aanklagte van bedrog en oortredings van die Padverkeerswet. Hy het glo tussen Mei 2009 en Oktober 2011 die Tshwane-metropolisie en/of die departement van vervoer bedrieg deur met ’n vals nommerplaat, “Balty GP”, op sy BMW en op ’n Harley-Davidson-motorfiets te ry. Hy het glo ook nie die BMW geregistreer nie, die voertuig het nie ’n lisensieskyf gehad nie en daar was ’n onwettige flitsende blou lig op die paneelbord.

Een van die foto’s wat die staat as bewysstuk ingedien het wat glo bewys hoe Ndumiso Joshua Jaca as passasier na bewering in sy BMW Z4 met die persoonlike nommerplaat daarop deur ’n tolhek gery het voordat die nommerplaat wettig geregistreer is.

Landdros Graham Travers het hom intussen vrygespreek op verskeie van die alternatiewe klagte, sowel as die een oor die onwettige blou lig. Jaca moes hierna kom getuig oor die oorblywende aanklagte teen hom.

Hy het vroeër getuig dat hy reeds voor die stigting van die Tshwane-metropolisie by die munisipaliteit betrokke was en gehelp het met navorsing om die nuwe metropolisie teen 2002 op die been te bring

Leonora Bateman, aanklaer, het dit Donderdag aan Jaca gestel dat die persoonlike nommerplaat vir sy voertuig eers in September 2011 uitgereik is, net nadat die bewerings teen hom openbaar gemaak is.

“U het getuig dat u ook op grondvlak gewerk het en wetstoepassing gedoen het, so u is bewus van die vereistes om ’n voertuig te registreer vir gebruik op ’n openbare pad. U ontken ook nie dat u BMW Z4 die nommerplaat ‘Balty GP’ gehad het nie.

“Daar is getuies dat u reeds in 2010 met daardie voertuig en nommerplaat op die pad gesien is,” het Bateman gesê.

Die beskuldigde het gesê omdat dit maande kan duur om ’n persoonlike nommerplaat te registreer, kan ’n mens dit intussen laat druk en gebruik.

“Maar dit moet dan vir ’n voertuig geregistreer word voordat jy die voertuig kan gebruik,” het Bateman uitgewys.

Jaca het vurig losgetrek: “Jy is onkundig. Hierdie kar was afgeskryf. Ek het dit opgebou en herstel en deur die toetse gesit. ’n Persoonlike nommerplaat is joune. Jy kan dit sit net waar jy wil en daardie een is aan my voertuig toegeken. Solank jy aansoek gedoen het om daardie persoonlike nommerplaat, kan jy dit gebruik”.

Die aanklaer het hierop foto’s gewys van die motor wat op 11 Julie 2011 deur ’n tolhek gery het. Daar was ook ’n soortgelyke foto wat op 1 Mei 2009 geneem is.

Jaca se verweer was dat dit ’n “gekloonde ewebeeld” van sy nommerplaat is en dat die staat nie kan sê daardie BMW Z4 met dieselfde nommerplaat is inderdaad syne nie.

“Ek en jy bly in dieselfde land, so jou onkunde ontstel my. Weet jy nie dat hoeveel nommerplate gekloon word nie? Ek kan nie jou onkunde verskoon nie,” het hy teruggekap.

Toe Bateman vra hoekom hy dan inderhaas ’n spesiale permit vir die voertuig gekry het en dit in September 2011 geregistreer het toe die stories oor sy motor openbaar geword het, het Jaca geantwoord: “Laat ek jou gratis onderrig gee. Ek het in my lewe karre gekoop en verkoop. Daar is niks daarmee verkeerd om met garage-nommerplate rond te ry nie.”

Daarop het die aanklaer Jaca gevra: “So hoekom dan die haas om die ander nommerplate te kry (nadat die bewerings teen Jaca gemaak is)? Daar is ooggetuies wat u met daardie nommerplaat op die kar sien ry het voordat dit geregistreer is.”

Die verhoor gaan later vandeesmaand voort.

Meer oor:  Tshwane-Metropolisie  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.