Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Nommerplaat-sage: Metropolisie-hoë skuldig bevind

’n Geskorste direkteur en adjunkhoof van die Tshwane-metropolisie is Donderdag in die streekshof in Pretoria skuldig bevind op ’n aanklag van bedrog, sowel as twee oortredings van die Padverkeerswet.

Ndumiso Joshua Jaca het reeds in 2014 skuld op verskeie aanklagte teen hom ontken en is vroeër op van dit onskuldig bevind.

Landdros Graham Travers het nou op die oorblywende aanklagte uitspraak gelewer en bevind dat Jaca wel van 22 Oktober 2010 tot 12 September 2011 die Tshwane-metropolisie en/of die departement van vervoer bedrieg het deur valslik voor te gee dat ’n persoonlike nommerplaat, “BALTY GP” aan sy BMW Z4 wettig is.

Die “Balty” op die nommerplaat kom glo van sy bynaam omdat hy kaalkop is.

Die hof het tydens die jarelange verhoor gehoor dat ’n persoonlike nommerplaat eers wettig is nadat ’n voertuig deur die padwaardigheidstoets is, met die “normale” nommerplaat gelisensieerd is en dan eers met die persoonlike nommerplaat gelisensieer kan word.

Dit blyk dat Jaca bloot die “BALTY GP”-nommerplaat self aan sy motor gesit het.

Travers het hom daaraan skuldig bevind dat die einste BMW nie gelisensieer of geregistreer is nie.

Die landdros het, weens die lang tydperk wat die saak geduur het en die aanloop tot die uitspraak, Donderdag net uitspraak gelewer en gesê hy sal die volledige redes vir sy beslissing aan die staatsaanklaer, Leonora Bateman, en Jaca se regsverteenwoordiger, André Steenkamp, per e-pos stuur.

Die saak is daarna tot September vir vonnisverrigtinge uitgestel.

Jaca se vrylating op waarskuwing is verleng, omdat hy nie as ’n vlugrisiko beskou word nie en Steenkamp uitgewys het dat hy deur al die jare getrou die verhoor bygewoon het.

• Jaca het vroeër getuig dat hy reeds voor die stigting van die Tshwane-metropolisie by die munisipaliteit betrokke was en gehelp het met navorsing om die nuwe metropolisie teen 2002 op die been te bring.

Hy het aangevoer dat “iemand” sy persoonlike nommerplaat “gekloon” het en dat die hofsaak teen hom deel van ’n “sameswering” teen hom is.

Dit was glo, volgens hom, hoe die nommerplaat “Balty GP” op ’n BMW Z4 – identies aan syne – op tolhek- en spoedlokval-foto’s verskyn het voordat hy dit wettig geregistreer het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.