Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Noodfakkel veroorsaak R1,6 miljoen se skade
Foto ter illustrasie: iStock

Die noodfakkel wat ’n polisieman oor die Vanderkloofdam in die Suid-Vrystaat afgevuur het, kos sy minister minstens R1,6 miljoen nadat dit ’n verwoestende veldbrand op die oewer veroorsaak het.

Die wind het die fakkel, wat van die Vrystaat-oewer afgevuur is, teruggewaai tot ’n ent van waar polisiemanne, amptenare van die departement van waterwese en ander departemente ’n vuur aangesteek het om wors te braai, blyk uit hofstukke in die hooggeregshof in Bloemfontein.

Regter Joe Mhlambi het by ooreenkoms tussen die partye vandeesweek gelas die minister van polisie moet Petrus Christiaan Claassens van die plaas Kammarieb, Philippolis, R1,6 miljoen vir sy skade en sy regskoste betaal.

Die minister moet ook die koste betaal van sewe deskundige getuies wat vir Claassens sou getuig het.

Ao. Frans Stottelaar, wat die fakkel afgevuur het, sê in ’n verklaring hulle was op 8 Februarie 2013 met ses bote op die water om navorsingsnavigasie te doen en een het “verdwaal”.

Die fakkel is in die rigting die Noord-Kaapse oewer gevuur om die ander boot te wys waarheen hy moet kom. Hulle het nie meer radiokommunikasie met dié boot gehad nie.

Die fakkel het bokant die water aan sy valskerm gehang totdat dit uitgebrand was. “Die verdwaalde boot het laat weet dat hulle ons gesien het en op pad is.”

Toe hulle besef die fakkel het die veld aan die brand gesteek, het hulle die brand vergeefs probeer blus.

Ao. Abraham Smit sê in sy verklaring hulle het by ’n lapa aan wal gegaan om middagete te nuttig en ’n vuur aangesteek om wors te braai.

Hulle het gesien hoe die wind die valskermpie in hul rigting waai.

Toe hulle besef die fakkel het die veld aan die brand gesteek, het hulle die brand vergeefs probeer blus.

Luidens Claassens se eis is skade aan wildheinings, weiding, bome, struike en waterpype aangerig.

’n Gastehuis met ’n grasdak het afgebrand. Dié skade is R785 000.

541 ha weiveld het afgebrand. 16 volstruise is dood. Hulle het vermoedelik doodgebrand of van stres gevrek.

Luidens die hofstukke was daar geen noodtoestand nie en in die lig van die weerstoestande en die volop droë gras en bosse in die omgewing was dit nie oordeelkundig om ’n noodfakkel af te vuur nie. Stottelaar moes van beter geweet het.

Adv. Joubert Zietsman het in opdrag van Henry Buchner van Honey-prokureurs vir Claassens opgetree. Adv. Germa Wright het in opdrag van die staatsprokureur vir die minister van polisie opgetree.

Meer oor:  Brandskade  |  Veldbrande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.