Wanneer jy ’n kliënt help, dink jy nie jy gaan ’n prys daarvoor kry nie, jy dink aan die kliënt se behoeftes, sê die Noord-Kaapse regsassistent wat onlangs deur die Regshulpraad van Suid-Afrika as sy nasionale regsassistent van die jaar vereer is.
Baderunisa Mukadam (46) van die Colesberg-kantoor sê daarom is sy in ekstase dat haar werkgewer erkenning gee wanneer jy die ekstra myl vir jou kliënte stap. Dit inspireer haar om nog meer te vermag.
Sy vind haar werk ontsaglik bevredigend omdat dit eintlik lewens verander, sê sy.
“Ek dink nie daar is iets meer bemagtigends as die wete dat jy iemand bygestaan het wat nie kan lees en skryf nie – dat jy deure oopgemaak het vir iemand wat gedink het daar is nie hoop vir hul probleem nie.”

Baderunisa Mukadam Foto: Verskaf
Mukadam, wat al byna ses jaar vir die Regshulpraad van Suid-Afrika werk, was 17 jaar lank ’n sakevrou voordat sy op 38-jarige ouderdom begin studeer het.
Sy het haarself twee jaar gelede van die Caledon-kantoor na die Colesberg-kantoor, waar sy oorspronklik begin het, hervestig.
Deur-tot-deur-uitreike na die plaaslike gemeenskap is ook ’n belangrike aspek van haar werk om mense oor hul regte in te lig.
Sy prys die prokureur Meliska Fortuin vir haar mentorskap oor die jare heen, wat haar gevorm het.
Boitumelo Boshupeng, die Regshulpraad van Suid-Afrika se woordvoerder vir die Noord-Kaap en die Wes-Kaap, sê dié nasionale toekenningsgeleentheid in Johannesburg op 4 Desember vir toppresteerders vereer personeel vir uitsonderlike kliëntediens in hul gebied.
Volgens Boshupeng is Mukadam as afdelingswenner aangewys vanweë haar passie vir geregtigheid en ubuntu.
“Baderunisa het gefokus gebly op behoeftige mense wat deur die maatskaplik-ekonomiese gevolge van hierdie tydperk in die geskiedenis geraak is.”
Hy sê Mukadam het gereeld bejaarde kliënte wat nie self by die hof kan uitkom nie, se huise saam met hofbeamptes besoek.
Sy is onlangs geprys omdat sy daarin kon slaag om ’n pensioentrekker se polis te laat uitbetaal, ná ’n twee jaar lange stryd van die kliënt, sê Boshupeng.