Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Norma kry selfone en skootrekenaar terug

Nomachule (Norma) Gigaba (40) het nou weer haar elektroniese toestelle terug nadat die Valke daarop beslag gelê het.

Norma, vrou van die voormalige minister van finansies Malusi, en haar prokureur, Victor Nkhwashu, het Dinsdagoggend haar drie selfone, skootrekenaar en iPad by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria teruggekry.

Daar is op 22 Julie vir die doeleindes van die klag van crimen injuria teen haar op die toestelle beslag gelê.

Nomachule (Norma) Gigaba het Maandag vlugtig in die landdroshof in Hatfield verskyn. Foto: Felix Dlangamandla

Nkhwashu het aan News24 gesê hy kan nie bevestig of ’n lasbrief vir die beslaglegging aan sy kliënt gewys is nie, berig Alex Mitchley.

Norma het Maandag vlugtig op aanklagte van crimen injuria en kwaadwillige saakbeskadiging in die Hatfield-landdroshof verskyn. Luidens die klagstaat het sy ’n Mercedes-Benz G-Wagen beskadig. Vroeër is berig dat die voertuig aan Peterson Siyaya­, ’n vriend van haar man, behoort.

Nkhwashu het egter Dinsdag aan Netwerk24 gesê hy kan nog nie bevestig aan wie die beskadigde voertuig behoort nie.

Volgens die klagstaat het sy ook ’n beledigende SMS gestuur, maar die klagstaat dui nie aan na wie nie. In die SMS beskuldig sy die ontvanger dat hy tenders verkoop, saam met ouer vroue slaap en Malusi gebruik om vroue te verkul.

Nkhwashu sê dokumente word nou opgestel om Norma se inhegtenisneming deur die Valke in die hooggeregshof te betwis.

Adv. Dali Mpofu en adv. Tembeka Ngcukaitobi is ook deel van Norma se regspan omdat dit, volgens Nkhwashu, ’n ingewikkelde saak is wat ’n voormalige minister betrek.

Sunday Times het Sondag berig dat Malusi volgens ’n anonieme bron doodsdreigemente gekry het. Nadat Norma na bewering die voertuig beskadig het, is sy as ’n verdagte by die ondersoek betrek.

“Die ondersoek duur voort, al die kwessies sal duidelik wees wanneer die ondersoekbeampte al die bewyse gebring het,” het Lumka Mahanjana, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), by navraag hieroor gesê.

‘Misbruik van staatsbronne’

Intussen het Sonke Gender Justice, ’n organisasie sonder winsbejag, in ’n verklaring sy kommer oor die misbruik van staatsbronne uitgespreek omdat die Valke by die inhegtenisneming betrokke was.

“Sonke neem met kommer kennis van die blatante misbruik van staatsbronne deur Malusi Gigaba en die adjunkminister van finansies, David Masondo, wat albei die Valke in twee afsonderlike voorvalle gebruik het om persoonlike vendettas te hanteer,” lui die verklaring.

Sonke skryf verder dat die bereidwilligheid van die Valke om sy mandaat om georganiseerde misdaad, ekonomiese misdaad, korrupsie en ander ernstige misdade vir politici te buig, dui daarop dat staatsinstellings bestaan om mans te dien en te beskerm.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het by navraag gesê die Valke ken hul mandaat. “Ons verwerp die aantygings dat die Valke vir politieke doeleindes gebruik word.”

Mulaudzi het gesê die Valke is vanweë polisiëringstandaarde by Norma se inhegtenisneming betrokke.

Hy het ook gesê hy sal mettertyd meer sê oor wat gebeur het.

Meer oor:  Valke  |  Nomachule Gigaba  |  Malusi Gigaba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.