Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Nou gaan Ace appèlhof toe oor voorlopige skorsing

Ace Magashule probeer die een troefkaart ná die ander speel, maar dit is nou besig om op te raak, sê Roy Jankielsohn, leier van die DA in Bloemfontein.

Ace Magashule Foto: Argiewe

Hy het gereageer op die nuus dat die voorlopig geskorste sekretaris-generaal van die ANC einde verlede week ’n aansoek by die appèlhof in Bloemfontein ingedien het om te appelleer teen die hooggeregshof se beslissing wat sy skorsing bekragtig het.

Jankielsohn sê dit is ironies dat lede van die Radikale Ekonomiese Transformasie (RET)-faksie hulle gereeld uitspreek oor hul wantroue in die land se regstelsel, maar wanneer hulle met die uitkoms van hul interne ANC-binnegevegte ongelukkig is, hardloop hulle gou soontoe.

Hy sê die leiers van die RET-faksie en Magashule se neerhalende uitsprake oor die regters en regstelsel van Suid-Afrika ondermyn die beginsels van die regstaat en die land se Grondwet.

“Sowel Magashule as oudpres. Jacob Zuma is opportunisties in hul gebruik van die regstelsel as instrument om ANC-binnegevegte in hul guns te probeer beslis. As dit egter teen hulle draai, gedra hulle hulle soos bedorwe kinders wie se speelgoed afgeneem is.”

Dié twee het die afgelope dekade en ’n half bygedra tot die ondermyning van die demokrasie en die vernietiging van die land se ekonomie deur hul beweerde bydraes tot staatskaping en korrupsie.

“Dit het bygedra tot die ekonomiese wantroue in ons land en grootskaalse werkloosheid.”

Dr. Roy Jankielsohn Foto: Argiewe

Hy sê die onlangse onrus in KwaZulu-Natal en die geweldige skade wat dit die land berokken het, bewys dit.

“Die ANC kan homself nie regruk nie, omdat hy die afgelope 27 jaar ’n onvermoë getoon het om van ’n bevrydingsorganisasie met bevrydingsretoriek tot ’n regerende party met verantwoordelike implementering van beleid te kan transformeer.”

Adv. Tankiso Mea, voormalige munisipale bestuurder van die Mangaung-metro, wat Vrydag bedank het, het Saterdag by navraag gesê hy weet dat Magashule hom tot die appèlhof wil wend om die hofbeslissing wat sy skorsing bekragtig het uit te daag.

Een van die mense wat waarskynlik die uitkoms van Magashule se saak met groot belangstelling gaan dophou, is Olly Mlamleli, uitgeskopte uitvoerende burgemeester van die metro.

Die tussentydse provinsiale komitee van die ANC in die Vrystaat, met Mxolisi Dukwana as die sameroeper, het haar vroeër ook gevra om opsy te staan omdat sy, soos Magashule, ’n beskuldigde in die saak oor die omstrede asbesdakskandaal is.

Mlamleli is steeds ’n ANC-raadslid van die metro nadat sy ná ’n mosie van die VF Plus as uitvoerende burgemeester onthef is. Sy word nog vergoed as raadslid en weier glo om opsy te staan.

Mea het dit ook Saterdag bevestig.

Olly Mlamleli Foto: Argiewe

News24 het ook berig dat Magashule appèl wil aanteken teen die hooggeregshofuitspraak wat sy skorsing as die sekretaris-generaal bekragtig het.

’n Volbank regters het beslis die ANC se opsystaan-reël, wat die grondslag van sy skorsing uitmaak, is grondwetlik en reg toegepas, maar Magashule meen die hof het dit verkeerd.

News24 berig hy het Magashule se aansoek van 14 bladsye gesien. Dit is glo Vrydag onderteken en in die appèlhof in Bloemfontein geliasseer.

Pres. Cyril Ramaphosa en Jesse Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, is respondente in die saak.

In die appèl argumenteer Magashule dat die hooggeregshof in Johannesburg verskeie foute gemaak het toe die hof sy skorsing bekragtig het, berig News24.

Magashule glo egter steeds die party se opsystaan-reël is ongrondwetlik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.