Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Nou wag rokers op uitspraak in Batsa-saak

Mense wat gehoop het op goeie nuus oor die verkoop van tabakprodukte, sal nog langer moet wag nadat uitspraak Donderdagaand voorbehou is in British American Tobacco Suid-Afrika (Batsa) se aansoek teen die verbod op tabakverkope op vlak 3 van die staat van inperking.

Die regspan wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en die president verteenwoordig, het hul argumente teen die aansoek gelewer en voer aan daar is voldoende bewyse dat rokers ’n groter gevaar loop om ernstig siek te raak van Covid-19.

Regters Elize Steyn, Tandaswa Ndita en Hayley Slingers in die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Suider-Afrika Agri Inisiatief

Adv. Karrisha Pillay het in haar voorleggings gesê die hoofredes vir die voortsetting van die verbod op vlak 3, is om mense se lewens en gesondheid te beskerm en die las op die openbare gesondheidstelsel te verminder.

Dit was veral belangrik in die lig van die voorspelde skerp styging in Covid-19-besmettings nadat inperkings op vlak 4 verslap is.

“Ons weet nou die minister is reg bewys.”

Pillay voer aan Dlamini-Zuma het ingevolge die grondwetlike reg opgetree dat niemand gesondheidsdienste in ’n noodgeval geweier mag word nie. Die staat is verplig om dié dienste te verskaf met die hulpbronne tot sy beskikking. Toegang tot hospitaalbeddens en ventilators val onder die reg om nie gesondheidsorg geweier te word nie.

Volgens Pillay moet die regering die verspreiding van Covid-19 verhoed en verseker dat almal toegang tot gesondheidsorg het, veral in die konteks van ’n pandemie. Die minister gee ook toe dat dit ’n nuwe siekte is en die wetenskaplike bewyse mettertyd ontwikkel, insluitend oor die verband tussen rook en Covid-19.

Verder word die verbod nie geregverdig omdat tabakverbruik met die oordrag van die siekte verbind word nie. Daar is slegs “gemengde bewyse” daarvoor. Dit gaan eerder oor die bewyse dat rokers ’n groter risiko het om ernstig siek te raak, in die hospitaal opgeneem te word en te sterf, sê Pillay.

Volgens die minister is daar ’n “oorwig wetenskaplike bewyse” dat rook die risiko om erg siek te word verhoog en dus groter druk op die gesondheidstelsel kan plaas.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. Foto: S’thembile Cele

Pillay het beklemtoon dat Dlamini-Zuma ’n versigtige benadering gevolg het om te keer dat hospitale en gesondheidswerkers oorweldig word.

In die minister se voorleggings word bewyse genoem van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in China wat bevind het dat toegang tot ventilators en intubasie noodsaaklik word vir pasiënte met erge simptome van Covid-19.

Dit het haar laat besef dat daar tekorte van dié hulpbronne in Suid-Afrika gaan wees.

“Dit is nie ’n poging om rook uit te wis nie, maar te verminder om kritieke hulpbronne beskikbaar te hê vir ernstig siek mense,” sê Pillay.

Volgens Dlamini-Zuma het die land nog nie die piek van die pandemie bereik nie en daar sal waarskynlik in die komende weke en maande ’n aansienlike vraag na waakeenheidbeddens en ventilators wees.

Die minister se redenasies rondom die verbod is gegrond op bewyse van die WGO, insette en ondersteuning van die mediese gemeenskap, die mening van kenners en die mediese literatuur, waarvan sy as ’n dokter die meeste self nagegaan het.

’n Wetenskaplike kennisgewing van die WGO op 30 Junie beklemtoon ook die gevare van tabakverbruik.

Van die 34 portuurbeoordeelde studies wat die WGO se kriteria behaal het, het geeneen egter die verwantskap tussen tabakverbruik en die risiko van besmetting of erge gevalle van Covid-19 ondersoek nie.

Dit is ’n nuwe siekte, met nuwe data wat verskyn. Daarom sê ons nie die mediese literatuur is absoluut onweerlegbaar nie, maar die beskikbare bewyse dui daarop dat rokers ’n groter gevaar staan om ernstige simptome te ontwikkel.

Pillay sê daar is wel 27 waarnemingstudies en agt meta-ontledings van studies uitgewys, waarvan al die waarnemingstudies rokers onder pasiënte in die hospitaal gevind het en twee meta-ontledingstudies ’n voorkoms van rokers onder pasiënte opgemerk het.

“Tans is daar geen portuurbeoordeelde studies wat die risiko van hospitalisasie onder rokers beraam nie, maar die 27 waarnemingstudies het bevind dat rokers tussen 1,4% en 18,5% uitmaak van die volwassenes wat gehospitaliseer is.”

Volgens Pillay sê die WGO bevolkingstudies moet gedoen word om dié risikofaktor vir rokers behoorlik te bepaal. Die WGO beveel egter steeds aan dat rokers ophou, gegewe die welbekende gevare wat tabakverbruik en tweedehandse rook inhou.

Verder benadruk Dlamini-Zuma dit is welbekend dat rook gepaardgaan met van die komorbiditeite wat met ernstige gevalle van Covid-19 verbind word, soos hipertensie, diabetes en kardiovaskulêre siekte.

Die literatuur dui aan dat rokers twee keer of selfs meer geneig is om kritieke sorg te benodig of in die waakeenheid opgeneem te word vergeleke met mense van dieselfde ouderdom wat nie rook nie, sê Pillay.

“Dit is ’n nuwe siekte, met nuwe data wat verskyn. Daarom sê ons nie die mediese literatuur is absoluut onweerlegbaar nie, maar die beskikbare bewyse dui daarop dat rokers ’n groter gevaar staan om ernstige simptome te ontwikkel. Ons sê die verbod is billik en nodig om die publiek te beskerm.”

Pillay het daarop gewys dat die regering nie ’n groot getal studies aanbied wat die verwantskap tussen rook en ernstige Covid-19-gevalle “heeltemal en beslissend” bewys nie.

Die minister is realisties en weet dat daar ’n goed gevestigde misdadige onderwêreld is wat in die sluikhandel van tabak betrokke is in Suid-Afrika.

“Die pandemie verplig die regering om vinnig en proaktief op te tree of die moontlike risiko’s te versag en dit verantwoordelik te doen. Die minister sê sy het dit gedoen aan die hand van beskikbare bewyse en sy besluit is gegrond op die beste beskikbare inligting en advies van kenners.”

Dit is nie die hof se rol om te bepaal “wie se wetenskaplike bewyse beter is nie”, maar of die besluit redelik en nodig is gegewe die inligting beskikbaar aan die minister.

Die minister se deskundiges het ook in hul insette aan die hof gesê dokters weet al meer as ’n halfeeu dat mense se longkapasiteit verbeter as hulle ophou rook.

Pillay sê die bewyse dui aan die gevaar om ernstig siek te raak hang minder af van hoe lank jy gerook het en meer oor die huidige blootstelling aan rook. Die voordele om op te hou rook is boonop onmiddellik.

Sy voer ook aan dit is nie vir die hof om te bepaal of daar beter maniere is om die regering se doelwit te bereik nie, want dit sal die verdeling van magte tussen die regstelsel en uitvoerende gesag oorskry.

Adv. Andrew Breitenbach, SC, ook namens die minister en president, sê die minister verwag nie dat alle rokers gaan ophou nie, maar wil mense minder laat rook om druk op die gesondheidstelsel te verminder.

Die verbod sal opgeskort word wanneer dit veilig is.

“Die minister is realisties en weet dat daar ’n goed gevestigde misdadige onderwêreld is wat in die sluikhandel van tabak betrokke is in Suid-Afrika. Tog het sy steeds die besluit geneem met die doel dat dit ’n voordelige uitwerking op die gesondheidstelsel kan hê.”

Breitenbach sê die applikante dui op die geld wat die regering in belasting verloor, maar dit moet ook gesien word in die konteks van die miljarde rande wat die land jaarliks weens tabakverbruik verloor.

Hy het ook die sprake van 296 000 werkverliese weens die verbod as “oordrewe en onbetroubaar” afgemaak en daarop gewys dat Batsa net sowat 72 000 werke direk en indirek ondersteun.

“Die regering is bewus van die skade en moontlike werkverliese en monitor die situasie. Die verbod sal opgeskort word wanneer dit veilig is.”

Regters Elize Steyn, Tandaswa Ndita en Hayley Slingers het nie aangedui wanneer uitspraak verwag kan word voordat hulle die hof verdaag het nie.

Batsa is die eerste applikant, gevolg deur JT International South Africa, Melinda Ferguson, Keoagile Molobi, Limpopo Tobacco Processors, South African Tobacco Transformation Alliance, Black Tobacco Farmers Association, Suider-Afrika Agri Inisiatief, South African Informal Traders Alliance en La Toscania Investments CC.

Meer oor:  Wgo  |  Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Batsa  |  Covid-19  |  Tabakverbod  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.