Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Nuwe POF-wet ‘wil nie prokureurs uitskakel’

Die doelwit van die voorgestelde wetsontwerp wat die huidige Padongelukkefonds (POF) moet vervang, is nie om prokureurs uit die stelsel te verwyder nie.

Die Wetsontwerp oor die Padongeluksvoordeelskema wil slagoffers van padongelukke eerder nou nóg ’n keuse bied om ’n vergoedingseis ook nou deur ’n skema-administrateur, pleks van deur ’n prokureur, te kan indien, sê die parlement.

Die portefeuljekomitee oor vervoer is besig om openbare sittings landwyd oor die wetsontwerp te hou.

Só ’n sitting is Woensdag in Kimberley se stadsaal in die Noord-Kaap gehou, waar gewone Suid-Afrikaners en belanghebbendes hul sê oor die wetsontwerp aan LP’s kon oordra.

Dikeledi Magadzi, voorsitter van die portefeuljekomitee, het in ’n verklaring gesê sy wil graag die wanopvatting dat die wetsontwerp prokureurs heeltemal uit die stelsel wil verwyder, regstel.

“Wat die Padongeluksvoordeelskema wil bereik, is om die slagoffers van padongelukke ook die keuse te gee om deur ’n skema-administrateur te eis. Dan hoef die publiek nie net op prokureurs staat te maak nie.

“Die komitee wil die publiek verseker dat die wetgewing nie die gebruik van prokureurs hiervoor onwettig wil maak nie. Dit gee die slagoffers net eenvoudig die keuse om direk te eis of om ’n prokureur te gebruik.”

Volgens Magadzi sal die wetsontwerp indien dit later as wet bekragtig word, die huidige Wet op die POF vervang.

Dit is onder meer om die administrasie van voordele en uitbetalings te verbeter en om ’n maatskaplike veiligheidskema aan slagoffers te verskaf.

Dit het ook ten doel om ’n administrateur vir die Padongeluksvoordeelskema daar te stel wat die skema sal administreer en implementeer.

Die komitee wil die publiek verseker dat die wetgewing nie die gebruik van prokureurs hiervoor onwettig wil maak nie.

Volgens haar het die wetsontwerp reeds in die openbare sittings wat reeds gehou is, gemengde reaksie uit verskeie sektore van die samelewing uitgelok.

Vroeër is berig dat die bestuur van die POF in Junie 2018 in die parlementêre fase van die openbare vergaderings die POF in sy huidige vorm as ’n “pot goud vir skelm regslui” beskryf het.

Die parlement het ook gehoor dat daar verlede jaar 891 klagtes was van mense wat by die Attorneys Fidelity Fund (AFF) geld geëis het oor prokureurs wat na bewering deur middel van eise by die POF geld van hulle gesteel het.

Die AFF lewer versekeringsdienste aan prokureurs wat lede is van die Attorneys Indemnity Insurance Fund, wat prokureurs teen sulke eise help beskerm.

Die parlement het ook gehoor dat tot soveel as 70% van die geld van die POF vermoedelik in die sakke van tussengangers eerder as in die sakke van die slagoffers van motorongelukke beland. Daar is in die afgelope boekjaar R8,3 miljard aan tussengangers betaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.