Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
NVG gaan Jiba nou wel vervolg, sê AfriForum

Adv. Nomgcobo Jiba, omstrede voormalige adjunkdirekteur van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) wat verlede jaar deur pres. Cyril Ramaphosa afgedank is, gaan volgens AfriForum uiteindelik deur die NVG vervolg word.

AfriForum het Dinsdag in ’n verklaring gesê sy private vervolgingseenheid is skriftelik deur die NVG in kennis gestel dat Jiba vervolg gaan word.

Nomgcobo Jiba. Foto: Tebogo Letsie

Ramaphosa het Jiba en die senior aanklaer Lawrence Mrwebi in April verlede jaar afgedank nadat die Mokgoro-kommissie bevind het sy en Mrwebi is nie geskik vir hul senior poste in die NVG nie, en dat Jiba onbevoeg is om so ’n senior pos te beklee.

Jiba en Mrwebi se name het veral ook reeds in die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping opgeduik in getuienis wat hulle betrek by staatskaping en dat hulle oudpres. Jacob Zuma en Richard Mdluli, oud-misdaadintelligensiehoof, beskerm het.

Jiba het ook in 2012 die vervolging van genl.maj. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, gemagtig – ’n vervolging waaroor daar wyd getuienis gelewer is voor die Zondo-kommissie en wat uiteindelik teruggetrek is.

Volgens AfriForum kom die ommeswaai om Jiba te vervolg nadat dié organisasie en adv. Gerrie Nel die NVG in November 2019 met ’n aansoek gedreig het om ’n besluit oor die vervolging van Jiba te neem soos wat die NVG veronderstel is om te doen in die uitvoering van sy pligte.

Nel het voorheen gesê dat hy namens Booysen vir Jiba vir bedrog en meineed wil vervolg.

Die NVG het egter tot nou toe versuim om ’n sertifikaat uit te reik om AfriForum te magtig om Jiba te vervolg, of om tot die stap oor te gaan om haar self te vervolg.

AfriForum sê die NVG het aan sy private vervolgingseenheid die versekering gegee dat die dossier teen Jiba veilig in ’n kluis is en nooit weg was nie, nadat daar vroeër beweer is die dossier word vermis.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê in die organisasie se verklaring die NVG se ommeswaai om Jiba uiteindelik te vervolg, is nie net ’n oorwinning vir AfriForum nie, maar vir die hele land wat in gelykheid voor die reg glo en wat teen staatskaping gekant is.

“Dit is egter jammer dat die private vervolgingseenheid eers soveel druk op die NVG moes uitoefen om bloot hul werk te doen en prima facie-sake te vervolg,” sê Kriel.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die NVG in Gauteng, het by navraag gesê die kwessie word steeds oorweeg en die NVG kan nie enige verdere kommentaar hieroor gee nie.

Meer oor:  Afriforum  |  Nvg  |  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Adv. Nomgcobo Jiba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.