Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
NVG hou vol geen lasbrief is vir Ace uitgereik

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het Woensdagoggend volgehou dat geen lasbrief vir die inhegtenisneming van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, uitgereik is nie.

Dit volg op die groot verwarring Dinsdagaand oor ’n beweerde lasbrief wat glo uitgereik sou wees.

“Ek weet nie waar die inligting vandaan gekom het nie, maar daar is geen lasbrief vir Ace nie,” sê Sipho Ngwema, NVG-woordvoerder.

Independent Online (IOL) het Dinsdagaand berig dat ’n lasbrief vir Magashule se inhegtenisneming in verband met sy beweerde rol in die Vrede-melkplaasprojek in die Vrystaat uitgereik is.

Ace Magashule

Magashule was die Vrystaatse premier toe die geld wat bedoel was om opkomende boere te help na bewering misbruik is.

Volgens IOL het ingeligtes in die Valke bevestig dat Magashule op die lys is van mense wat vandeesmaand in hegtenis geneem gaan word.

IOL het ook berig dat Magashule gesê het dat hy kennis van die voorgenome inhegtenisneming dra.

“Ek is bewus . . . Ek is bewus. Dit gaan ’n Hollywood-styl-ding wees, maar ons sal sien,” het hy luidens die berig gesê.

In ’n verklaring Dinsdagaand het die Valke hom “kategories gedistansieer” van die IOL-berig “oor die sogenaamde dreigende inhegtenisneming van mnr. Ace Magashule”.

Die Valke meen die berig is “kwaadwillig en bedoel om die integriteit van die organisasie te ondermyn”.

Daar is nie veel van die plaas oor nie. Daar is baie min beeste op die perseel en die melkery werk nie meer nie.

Brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, het Woensdagoggend aan Netwerk24 gesê “die Valke se naam word deur die modder gesleep weens die sogenaamde Valke-bronne wat glo met IOL gepraat het”.

Intussen het die DA Woensdag gesê die inhegtenisneming van Magashule en sy suksesvolle vervolging sal vir Suid-Afrikaners ’n stap in die regte rigting wees dat pres. Cyril Ramaphosa ernstig daaroor is om korrupsie vas te vat.

“Die DA het hard gewerk om die korrupsie in die Vrede-melkplaasprojek te ontbloot,” sê Refiloe Nt’sekhe, nasionale DA-woordvoerder.

Volgens haar het die Vrystaatse provinsiale regering voorgegee dat die Guptas geld vir dié projek gegee het. “Dit het nooit gebeur nie, maar steeds het die Guptas die meeste van die geld ontvang,” sê sy.

Nt’sekhe sê geen van die 42 begunstigdes van die projek het enige geld ontvang nie.

“Daar is nie veel van die plaas oor nie. Daar is baie min beeste op die perseel en die melkery werk nie meer nie. Nie een van die 42 begunstigdes werk op die plaas nie,” sê sy.

Meer oor:  Nvg  |  Ace Maga­Shule  |  Staatskaping  |  Lasbrief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.