
Alexis (Alexi) Bizos op een van sy profielfoto’s op Facebook.Foto: Facebook
Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het AfriForum ingelig dat hy wel Alexis (Alexi) Bizos, die seun van die menseregte-advokaat George Bizos, strafregtelik gaan vervolg op ’n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van dié burgerregte-organisasie, het Woensdag by ’n nuuskonferensie in Pretoria aangekondig dat die NVG ’n “ommekeer” gemaak het nadat hulle vroeër geweier het om Bizos jnr. te vervolg.
Bizos het na bewering in Maart 2015 sy vrou, Monique van Oosterhout, só aangerand dat ses van haar ribbes gebreek is. Sy het ’n klag by die polisie ingedien, maar is kort daarna deur die NVG ingelig dat hulle nie vir Bizos, van wie sy besig is om te skei, gaan vervolg nie.
AfriForum se private vervolgingseenheid onder adv. Gerrie Nel het in Februarie vanjaar ’n aansoek ingedien om ’n nolle prosequi-sertifikaat (weiering om te vervolg), met die doel om vir Bizos privaat te vervolg.
“Ons beskou die ommekeer as ’n oorwinning, want die NVG het destyds besluit om hom nie te vervolg nie, weens Bizos se familiebande,” het Kriel aangevoer.

Alexis (Alexi) Bizos (derde van links) by die viering van sy pa, adv. George Bizos (heel regs) se 91ste verjaardag vanjaar. Foto: Facebook

Adv. Gerrie Nel en Monique van Oosterhout by AfriForum se nuuskonferensie in Pretoria.Foto: Hanti Otto