Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
NVG sit nie stil met korrupsiesake, sê Batohi

Suid-Afrika se vervolgingstelsel is nie ontwerp om hoë-profiel-korrupsiesake doeltreffend én vinnig af te handel nie, sê adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging.

Batohi het Vrydag aan LP’s gesê as deel van sy strategiese planne vir die volgende vyf jaar is die nasionale vervolgingsgesag (NVG) besig om ’n doeltreffende stelsel te ontwikkel.

“Ek weet dat mense wag op sekere optrede wat aan hulle sal wys dat korrupsie getakel word; dat iets aan die hoëprofielsake gedoen word. Maar in dié stadium wil ek LP’s én die publiek verseker dat baie gebeur ten opsigte van korrupsiesake én betrokke individue.”

Batohi en die NVG se topbestuur het Vrydag die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste op ’n aanlyn sitting oor hul strategiese en jaarlikse prestasieplanne toegespreek.

Adv. Shamila BatohiFoto: DAILY SUN

Sy sê die Covid-19-pandemie ook die NVG se aanvanklike planne geraak, maar dit het hulle ook die geleentheid gebied om meer innoverend te word.

Sy het dit duidelik gemaak dat die NVG tydens die pandemie veral korrupsiesake sal prioritiseer wat verband hou met die miljarde rande wat die regering vir die Covid-19-verligtingspogings aangekondig het.

“So sal die vervolgingsgesag ook verseker dat sake teen wetstoepassers, soos polisiebeamptes en soldate, wat hardhandig teenoor landsburgers tydens die inperking optree, doeltreffend en spoedig vervolg word.

“Ons strategiese planne reflekteer ’n nuwe benadering vir die NVG en dat dinge nie meer soos gewoonlik sal voortgaan nie.”

Dié strategie moet volgens haar veral die NVG se geloofwaardigheid onder Suid-Afrikaners herstel.

“Dit moet mense baie veiliger laat voel én ’n werklike impak op die hoë vlakke van ernstige en geweldsmisdaad, seksuele misdade en alle ander soorte misdaad hê. Dit moet ook korrupsie aansienlik verminder en ’n kultuur van voldoening aan die landswette daarstel.”

Ek weet dat mense wag op sekere optrede wat aan hulle sal wys dat korrupsie getakel word; dat iets aan die hoëprofielsake gedoen word. Maar in dié stadium wil ek LP’s én die publiek verseker dat baie gebeur ten opsigte van korrupsiesake én betrokke individue.

Adv. Hermione Cronje, hoof van die NVG se ondersoekende direktoraat wat veral hoëprofiel-vervolgings weens korrupsie hanteer, het aan die LP’s gesê dit is onwaar dat niks met dié sake gebeur nie.

“Hoëprofielsake teen ’n voormalige nasionale polisiekommissaris, provinsiale kommissaris en agt polisiegeneraals sal binne ’n week of twee weer voor die howe wees.

“Daar is ook vier beskuldigdes voor die howe in die Bosasa-sage, met ’n vyfde wat oorsee is en binnekort daarby gevoeg sal word.

“Twee hofsake wat spruit uit getuienis wat vroeër voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gelewer is, sal ook op die hofrol geplaas word sodra die inperkingsregulasies dit toelaat.”

Oor die Estina-saak waarby die omstrede Gupta-broers betrek word, het Cronje gesê die NVG het die nodige samewerking van die Verenigde Arabiese Emirate gekry. Hulle verwag meer hulp uit daardie oord, terwyl alternatiewe getuienis ook daarvoor ingesamel word.

Twee hofsake wat spruit uit getuienis wat vroeër voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gelewer is, sal ook op die hofrol geplaas word sodra die inperkingsregulasies dit toelaat.

Die Guptas woon tans in Dubai.

Volgens Cronje is die NVG se strategie om nie net minder belangrike verdagtes in hoëprofiel-korrupsiesake te vervolg nie. Dit sluit ook in die vervolging van die meesterbreine én die verhaling van alle gesteelde geld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.