Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
NVG werk nog aan Gupta-uitlewering, hoor komitee

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het nog nie opgehou met hul pogings om lede van die Gupta-familie aan Suid-Afrika te laat uitlewer weens hul beweerde aandeel in staatskaping nie.

“Ons sal binnekort ’n aankondiging oor ons vordering hiermee uitreik,” het adv. Hermione Cronje, hoof van die NVG se ondersoekende direktoraat (OD), Vrydagmiddag aan LP’s in die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gesê.

Sy en adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, en ander NVG-afdelingshoofde het oor die NVG se jaarlikse prestasieplan en begroting voor die portefeuljekomitee verskyn.

“Ons het beslis nie opgegee nie en pogings om hulle hier te kry duur voort. Ons werk ook saam met ’n aantal lande.”

Die Gupta-broers en oudpres. Jacob Zuma word daarvan verdink dat hulle die meesterbreine agter staatskaping en grootskaalse korrupsie in Zuma se termyn as president was.

Batohi het gesê dat ’n OD wat doeltreffend funksioneer konkrete resultate sal lewer in die stryd teen korrupsie – wat sal help om beleggingsvertroue te herstel.

“Aansienlike vordering is gemaak om die OD se vermoë ondanks ’n komplekse omgewing te verbeter.”

Ons het beslis nie opgegee nie en pogings om hulle hier te kry duur voort. Ons werk ook saam met ’n aantal lande.

LP’s het ook gehoor dat die nasionale tesourie ’n onderneming gegee het dat die kuber- en forensiese tegnologie en vermoëns van die Zondo-kommissie aan die OD oorgedra sal word sodra die kommissie se werk afgehandel is.

Volgens Batohi het die NVG ondanks ’n begrotingsbeperking verskeie strategiese doelwitte vir die volgende vyf jaar.

“Ons wil nie net ’n hoë skuldigbevindingskoers hê nie, maar wil ook die gevoel van veiligheid en sekuriteit verhoog. Ook nie net ’n hoë skuldigbevindingskoers in korrupsie- en ander kommersiële-misdaadsake nie, maar wil beleggingsvertroue in die land verbeter.

“Laastens wil ons verseker dat die mense van Suid-Afrika beter toegang het tot al die NVG se dienste.”

Sy het benadruk dat die NVG se begroting vir veral goedere en dienste “reuse-kommer” vir sy topbestuur veroorsaak.

“Ons het werklik baie werk en wil seker maak dat ons gemotiveerde aanklaers het wat behoorlik toegerus is. So wil ons ook die vervolgingsgesag moderniseer.

“Ons wil ’n goeie vervolgingsdiens wees wat die uitdagings van die 21ste eeu kan hanteer. Ons is dankbaar vir die geld waarmee ons meer personeel kon aanstel.

“Die NVG het wel bykomende geld vir sy huidige begroting. Dit is egter net ’n 2%-styging. Dit is baie, baie min.

“Die NVG sal beter gefinansier moet word as dit suksesvol wil wees om mense agter tralies te kry, gesteelde geld te verhaal en om beleggersvertroue te herstel.”

Sy het dit benadruk dat dit noodsaaklik is dat die polisie en die Valke vir gehaltewerk goed gefinansier word sodat die NVG sy werk behoorlik kan doen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.