Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OB loop nog ’n regsbloutjie

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), se poging om die parlementêre proses om haar uit haar amp te verwyder in sy spore te stuit, is ’n hewige knou toegedien.

’n Volbank regters in die hooggeregshof in Kaapstad het haar jongste aansoek om verlof tot appèl ook met koste van die hand gewys.

Regters Vincent Saldanha, Elize Steyn en Monde Samela het in hul uitspraak gesê Mkhwebane het deur adv. Dali Mpofu, haar regsverteenwoordiger, nie suksesvol aan enige gronde voldoen om verlof tot appèl te kry nie.

Mkhwebane het verlof tot appèl na die appèlhof versoek nadat dieselfde regters op 9 Oktober vanjaar haar aansoek vir ’n dringende interdik ook met koste van die hand gewys het.

Sy het gehoop dat dié interdik die parlementêre proses teen haar tydelik sou stuit terwyl sy haar hoofaansoek afhandel om die grondwetlikheid van die reëls waarkragtens sy uit haar amp verwyder kan word, te betwis.

Albei aansoeke is deur Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, en die DA teengestaan.

Ons is van mening dat die applikant misluk het om aan enige gronde vir verlof tot appèl voldoen het. Ons is boonop van mening dat die regshulp wat onder Deel A (die tussentydse interdik) van die uitspraak versoek is, nie enige dwingende redes geopper het oor waarom verlof toegestaan moes word nie.

Die jongste regsbloutjie wat Mkhwebane geloop het, was nog ’n poging om die parlementêre proses te stuit.

Dié proses gaan intussen voort met Modise wat verlede week aangekondig het dat regter Bess Nkabinde, afgetrede regter van die konstitusionele hof, adv. Dumisa Ntsebeza SC en adv. Johan de Waal SC ’n onafhanklike paneel sal lei wat moet help beslis oor Mkhwebane se lot.

Dié paneel moet ingevolge die parlementêre reëls bepaal of daar prima facie-gronde bestaan om ’n amptelike parlementêre verwyderingsproses teen Mkhwebane te begin.

Die DA het vroeër vanjaar so ’n mosie teen Mkhwebane ingedien ná ’n reeks verdoemende hofuitsprake teen haar.

Saldanha, Steyn en Samela sê in die jongste uitspraak Mkhwebane se aansoek om ’n interdik voldoen nie aan die vereistes vir die toestaan van ’n tussentydse interdik nie.

Die hof het ook gesê selfs al het die applikant aan al die vereistes vir tussentydse regshulp (in haar aanvanklike interdikaansoek) voldoen, sou die hof sy diskresie gebruik en dit geweier het gegewe die erns van die klagtes teen haar.

Die regters het bevind dat die respondente na hul mening korrek aangevoer het dat die gronde waarop die applikant staatgemaak het, heeltemal misplaas was.

“Ons is van mening dat die applikant misluk het om aan enige gronde vir verlof tot appèl voldoen het. Ons is boonop van mening dat die regshulp wat onder Deel A (die tussentydse interdik) van die uitspraak versoek is, nie enige dwingende redes geopper het oor waarom verlof toegestaan moes word nie. Daar word na ons mening geen nuwe kwessies in Deel A van die aansoek geopper nie, terwyl daar ook nie teenstrydige regspresedente is wat deur ’n appèlhof opgelos moet word nie,” het die regters bevind.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Ob  |  Openbare Beskermer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.