Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OB ‘moet met respek behandel word’

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), en haar kantoor moet deurgaans met respek behandel word.

Regsgesag hieroor is deur adv. Dali Mpofu SC, aangehaal in die OB se teenaansoek in die hooggeregshof in Pretoria waarin sy vra dat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, tot “minagtende” misdadiger verklaar word.

Gordhan het Woensdag ’n hersieningsaansoek van haar verslag oor die vervroegde aftrede van Ivan Pillay, voormalige amptenaar van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), ingedien en gevra dit moet ter syde gestel word.

Volgens Mpofu is dit goed om howe en openbare instellings soos die OB te kritiseer, maar ’n mens moet waak teen populistiese retoriek wat hierdie instellings bloot kritiseer sonder enige bewyse.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer.

“Om die OB sleg te sê ondermyn haar en haar pligte teenoor die Grondwet van Suid-Afrika,” sê Mpofu.

Mkhwebane se aansoek staan nie net dié van Gordhan teen nie, maar bevat ook ’n tweede aansoek om Gordhan en Pillay, wat deel van die aansoek is, aan strafregtelike minagting skuldig te bevind weens hul “kwetsende aanvalle” op haar.

“Dit is eintlik Gordhan se grondwetlike plig om te help dat die OB se goeie naam beskerm word, nie om haar te ondermyn nie,” sê Mpofu.

Volgens Mkhwebane se verslag, wat sy verlede jaar uitgereik het, het Gordhan in sy tyd as minister van finansies, ongrondwetlik opgetree in sy besluit om Pillay vroeër te laat aftree.

Volgens adv. Wim Trengove SC, namens Gordhan, is die teenoorgestelde egter waar.

“Dit is die openbare beskermer wat ’n fout gemaak het en die wet verkeerd geïnterpreteer het,” sê Trengove.

Pillay het in Desember 2010 afgetree, maar tydelik aangebly in sy pos nadat hy ’n kontrak onderteken het om te help met die voorbereiding van sy opvolger.

Gordhan moes ingevolge die Wet op Openbare Dienste toestemming hiervoor gee omdat Pillay in daardie stadium nog nie 60 jaar oud was nie.

Gordhan het deur sy toestemming goedkeuring gegee dat Pillay se pensioen en die gepaardgaande voordele kon uitbetaal. Pillay was egter, ingevolge sy nuwe kontrak, nie geregtig op enige voordele nie, net ’n vasgestelde salaris.

Volgens Trengove is dit nie onreëlmatige besteding nie, maar eerder die OB wat die feite van die saak verkeerd verstaan het.

“Pillay was afgetree, al het hy aangebly by die SAID as ’n kontrakwerker. Ingevolge sy kontrak het hy geen voordele anders as sy betaling gehad nie, en boonop kon dié kontrak met ’n maand se kennis beëindig word,” sê Trengove.

Hy het ook gesê die OB se bevinding dat Gordhan ’n regsfout gemaak het, is irrasioneel.

“Daar is oorgenoeg bewys dat hy binne die wet opgetree het. Gordhan het ses kenners geraadpleeg en amper twee maande geneem voordat hy sy finale besluit geneem het,” sê Trengove.

Mpofu het hierop gesê die ses sogenaamde kenners se menings het geen wetlike gesag gedra nie en moet liefs geïgnoreer word.

Hy het ook die minister se redes vir die aansoek aangeval en gesê hy het geen wesenlike gronde gehad om ’n hersieningsaansoek te regverdig nie. Gordhan se argumente van sogenaamde regsdwaling van die OB se kant af kan nie gestaaf word nie.

Die saak word Donderdag voortgesit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.