Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OB sal R226 000 uit eie sak moet betaal

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), en haar kantoor moet vir een hofsaak meer as R3,4 miljoen se regskoste hoes. Die kantoor van die OB, wat met belastinggeld gefinansier word, sal sowat R3,2 miljoen hiervan dra, en die OB self sowat R226 000.

Mkhwebane op haar verjaardag.

Dit is alles die gevolg van ’n bevinding deur die OB in 2017 dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se reddingsboei van R1,25 miljard aan Bankorp tussen 1985 en 1995 onwettig was. Mkhwebane wou toe hê Absa, wat Bankorp in 1992 gekoop het, moes dié geld terugbetaal.

Absa en die SARB het die bevinding in die hooggeregshof in Pretoria betwis, wat teen Mkhwebane beslis en haar persoonlik aanspreeklik gehou het vir 15% van die SARB se regskoste. Mkhwebane is toe na die konstitusionele hof, wat in Junie 2019 in ’n verdoemende uitspraak bevind het sy het in kwade trou opgetree in die Reserwebank-geding.

Wat ’n gastelys
Die wenkbroue het die afgelope week gelig toe Mkhwebane die voormalige minister Mosebenzi Zwane, wat die teiken van een van haar ondersoeke is, na haar 50ste verjaardagpartytjie genooi het.
Zwane was LUR vir landbou in die Vrystaat tydens die Estina-suiwelplaasdebakel. amaBhungane en News24 het berig dat Mkhwebane opdrag gegee het dat inligting oor Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, en Zwane uit haar verslag oor Estina gelaat word.
Ander gaste het ingesluit Dali Mpofu, oudvoorsitter van die EFF, Mzwanele Manyi van die ATM, oudminister Bongani Bongo en die Ekurhuleni-burgemeester Mzwandile Masina.

Volgens Oupa Segalwe, die OB se woordvoerder, het die OB se kantoor reeds in Maart 2019 altesaam R19 miljoen aan Absa in regskoste betaal, maar wag hulle nog dat die SARB-rekening getakseer moet word. Die regsrekening aan die SARB sal dan altesaam R1 284 191,73 beloop. Die OB se persoonlike rekening is R226 621,24.

Volgens die SARB is die rekening klaar voor die belastingmeester van die hooggeregshof, en wag hulle net op ’n datum vir wanneer die rekeninge getakseer sal word.

Vroeër is berig Mkhwebane sou meer as R900 000 uit haar eie sak moes betaal.

Democracy in Action, ’n burgerlike organisasie wat in Julie verlede jaar op sosiale media begin geld insamel het om Mkhwebane te help, het teen September reeds R110 000 geïn.

Mkhwebane self behoort maklik die res te kan betaal – sy verdien sowat R1,7 miljoen per jaar, maar veg tans vir oorlewing.

Dinsdag het haar regspan in die hooggeregshof in Pretoria betoog dat Accountablity Now se pogings om haar uit haar pos te laat verwyder, nie aangehoor moet word nie aangesien ’n parlementêre proses oor haar toekoms reeds aan die gang is.

Sy wil ook die parlementêre proses stuit en het verlede week hofstukke op die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, be­dien.

Mkhwebane wil die hooggeregshof in Kaapstad op 17 Maart vra om die parlementêre proses met ’n dringende interdik te verbied totdat nóg ’n hofsaak teen haar afgehandel is, waarin sy die grondwetlikheid uitdaag van die nuwe parlementêre reëls om haar te verwyder.

Al hierdie gedinge kos geld: Uit die OB se totale begroting van R650 miljoen is R14 miljoen aan regskoste bestee – sowat R6 miljoen minder as in 2017-’18. Dit kan vanjaar weer heelwat hoër wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.