Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘OB sal skade ly as hof interdik weier’

’n Volbank regters het Maandagmiddag uitspraak voorbehou in die saak waarin adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), haar amp probeer red.

Mkhwebane het ’n aansoek ingedien vir ’n tussentydse interdik teen Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), nadat Modise ’n mosie van die DA goedgekeur het vir ’n ondersoek om haar uit haar pos te verwyder. Mkhwebane probeer die parlementêre proses teen haar tydelik staak.

Gister was die derde dag van die aanlyn hofverrigtinge voor regters Vincent Saldanha, Elize Steyn en Monde Samela.

Adv. Busisiwe Mkhwebane Foto: Argief

Die saak sal in twee dele aangehoor word. Die eerste deel, wat tans aan die gang is, gaan oor die interdik om die parlementêre ondersoek teen haar, te staak.

Die tweede deel sal daaroor gaan om die reëls wat die NV gebruik het om sulke ondersoeke te begin, ongrondwetlik te laat verklaar. Hierdie deel sal einde November aangehoor word.

Modise staan die hele aansoek teen.

Dali Mpofu SC, Mkhwebane se regsverteenwoordiger, het tydens sy betoog aangevoer Modise sal geen skade ly indien die interdik toegestaan word nie.

Hy het aangevoer dit is Mkhwebane wat skade sal ly weens die proses wat haar nadelig beïnvloed.

Hy het voorheen ook aangevoer die DA het die mosie “ter kwader trou” gemaak en Modise, wat hy meen die een persoon is wat die Grondwet moet beskerm, het dit nie gedoen nie. Sy het die mosie net aanvaar en die kwessie in “iemand anders se skoot laat val”.

Mpofu het die hof daaraan herinner dat die OB nie ’n politikus is nie en die proses haar reputasie geweldige skade kan aandoen. Hy het gesê die DA is sedert haar aanstelling in Oktober 2016 daarop gefokus om Mkhwebane se werk en haar persoon aan te val.

Mpofu het aangevoer die vooruitsig vir Mkhwebane se saak om te slaag is goed en daarom sal dit niks minder as reg wees nie om die interdik toe te staan.

Volgens Mpofu moet die gronde vir die aansoek van die interdik die vooruitsig op die sukses daarvan wees. Hy voer aan indien die interdik nie toegestaan word nie, sal die parlementêre proses haar verder skade berokken.

Die parlementêre proses is in die vroeë stadium (op punt twee van 17 stappe wat gevolg moet word) en as dit sou voortgaan alvorens die tweede deel van die aansoek afgehandel is, kan dit beteken dat Mkhwebane haar werk kwyt is.

“Dit is iets wat ons met ’n interdik wil keer,” het Mpofu gesê. Die uitkoms van die tweede deel van die aansoek is belangrik omdat, indien die hof sou bevind die parlement se nuwe reëls is ongrondwetlik, was die proses om Mkhwebane as OB te verwyder, ook ongrondwetlik.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Uitspraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.