Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OB se Gordhan-ondersoek was ‘regverdig’

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), se ondersoek na Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, was objektief en regverdig.

So het adv. Dali Mpofu SC Donderdag Mkhwebane se saak verder gevoer in die hooggeregshof in Pretoria, waar sy onder meer vra dat Gordhan tot minagtende misdadiger verklaar word.

Gordhan het Woensdag ’n hersieningsaansoek van haar verslag – oor die vervroegde aftrede van Ivan Pillay, voormalige amptenaar van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) – ingedien en gevra dit moet ter syde gestel word.

Mpofu het herhaaldelik gesê die OB se ondersoek was regverdig, maak nie saak hoe ’n mens daarna kyk nie.

Volgens Mpofu is daar deeglik nagedink oor die ondersoek. Hy het onder meer gesê haar ondersoek is twee jaar ná die voorval gedoen.

Die OB het ook die ondersoek nodig geag omdat voortgesette skade deur Gordhan se besluit aangerig is.

“Dit was ’n komplot, spesifiek sodat Pillay op vervroegde aftrede kan gaan op die onkoste van belastingbetalers,” aldus Mpofu.

Pillay het in Desember 2010 afgetree, maar tydelik aangebly in sy pos nadat hy ’n kontrak aangegaan het om te help met die voorbereiding van sy opvolger. Gordhan moes ingevolge die Wet op Openbare Dienste toestemming gee hiervoor omdat Pillay in daardie stadium nog nie 60 jaar oud was nie.

Gordhan het met sy toestemming ook goedkeuring gegee dat Pillay se pensioen en die gepaardgaande voordele kan uitbetaal.

Mkhwebane het in haar verslag onder meer aanbeveel dat pres. Cyril Ramaphosa gepaste tugstappe teen Gordhan doen.

Dit was ’n komplot, spesifiek sodat Pillay op vervroegde aftrede kan gaan op die onkoste van belastingbetalers.

Adv. Wim Trengove SC het reeds vroeër aan die hof uitgewys dat Gordhan se besluit in oorleg met ses kenners geneem is.

Dit was volgens hom irrasioneel van die OB om te bevind dat hy ongrondwetlik en buite sy magte opgetree het.

Mpofu het Donderdag hierop gesê die kenners se raad kan nie sommer aanvaar word nie.

Oupa Magashule, destydse SAID-kommissaris, was een van dié kenners. “Hoe kan hy as ’n kenner geag word as hy ook dieselfde persoon was wat die aanbeveling gemaak het van Pillay se vervroegde aftrede met volle voordele?” het Mpofu gevra.

Hy het verder daarop gewys dat nie al die kenners saamgestem het nie.

“Die minister is gewaarsku dat sy besluit wenkbroue sal laat lig en dat hy versigtig moet wees. Dit is dus onwaar dat al die kenners eenparig ten gunste van Pillay se vervroegde aftrede was,” het Mpofu gesê.

Die saak sal Vrydag hervat.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Pravin Gordhan  |  Dali Mpofu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.