Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OB se verwydering: Mkhwebane wil appelleer

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), het haar tot die appèlhof gewend in nog ’n poging om ’n stok in die speke te steek van die parlementêre proses wat tot haar verwydering kan lei.

Oupa Segalwe, woordvoerder van Mkhwebane, het Sondag bevestig dat die OB ’n aansoek om verlof tot appèl teen ’n onlangse uitspraak van die hooggeregshof in Kaapstad ingedien het. ’n Volbank regters van die hooggeregshof het Mkhwebane se aansoek van die hand gewys om die parlementêre proses teen haar tydelik te staak.

Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), het verlede week op ’n sitting van die NV se programme-komitee gesê hulle beoog om binnekort die proses van stapel te stuur.

Die NV is tans in verbinding met hoofregter Mogoeng Mogoeng oor die aanstelling van ’n regter wat kan dien op die onafhanklike paneel wat moet bepaal of daar gronde bestaan om Mkhwebane uit haar amp te verwyder.

Mkhwebane voer nou in hofdokumente aan dat die hooggeregshof in sy uitspraak gefouteer het deur haar aansoek as ’n hersieningsaansoek te hanteer, terwyl dit eintlik oor grondwetlike aspekte gehandel het.

Sy voer ook aan dat die regters verkeerd geredeneer het om by die beslissing uit te kom dat indien haar aansoek toegestaan word, dit onregmatig by die magte van die parlement sou inmeng.

Verder voer sy aan dat die regters in hul uitspraak bloot die argumente van die partye oor verskeie kwessies herhaal het sonder om self ’n beslissing daaroor te vel.

“In die lig hiervan, die openbare belang en die nuutheid van die kwessies wat geopper word, is daar objektiewe en boeiende redes vir hoekom die appèl aangehoor moet word,” lui die aansoek.

Volgens Mkhwebane is die uitspraak ook in konflik met verskeie ander bindende uitsprake.

Moloto Mothapo, woordvoerder van die NV, het nie Sondag op navrae gereageer nie. Sy kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.