Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OB wil appèlhof toe ná nog ’n bloedneus

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), wil haar nou tot die appèlhof wend nadat sy ’n tweede keer in die hof bloedneus gekry het oor haar verslag oor die Vrede-suiwelprojek.

Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydag haar aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys nadat hy in Augustus bevind het Mkhwebane het haar plig versuim om die Vrede-suiwelprojek te ondersoek en verslag daaroor te doen.

Mkhwebane kon in haar aansoek nie die hof oortuig dat ’n ander hof tot ’n ander beslissing sou kom nie.

Oupa Segalwe, woordvoerder van die OB, sê Mkhwebane sal nou die appèlhof nader in die hoop dat dié hof “dinge anders sal sien”.

“Die OB is uiteraard teleurgesteld in die uitspraak. Dit is egter nie die einde van die pad nie,” sê Segalwe.

Regter Ronel Tolmay het vroeër vanjaar beslis Mkhwebane het Suid-Afrikaners in haar ondersoek in die steek gelaat en beslis Mkwebane moet persoonlik opdok vir ’n groot deel van die regskoste van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) en die DA.

Die DA het die hof genader omdat hy meen Mkhwebane het nie die Vrede-suiwelprojek na behore ondersoek nie.

Die OB is uiteraard teleurgesteld in die uitspraak. Dit is egter nie die einde van die pad nie.

Mkhwebane is onder meer gevra om te bepaal wat die rol van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC en voormalige premier van die Vrystaat, in die projek was.

As deel van haar remediërende aanbevelinge het sy toe aanbeveel dat die einste Magashule tugstappe teen betrokke amptenare doen.

Die Vrede-suiwelprojek was veronderstel om opkomende swart boere op te hef, maar het uiteindelik op niks uitgeloop nie.

Honderde miljoene rande van belastingbetalers se geld is na bewering deur dié projek na die Gupta-familie gekanaliseer.

Dr. Roy Jankielsohn van die DA sê in ’n verklaring die jongste uitspraak teen Mkhwebane is ’n oorwinning vir die beoogde begunstigdes van die projek, asook die mense van die Vrystaat.

“Sy moet nou ’n volledige ondersoek begin om seker te maak haar aanbevelinge is in ooreenstemming met haar rol om seker te maak dat geregtigheid geskied.”

Mkhwebane het Donderdag op ’n nuuskonferensie in Pretoria aangekondig sy sluit verskeie ondersoeke oor politici wat hoë poste in die regering van oudpres. Jacob Zuma beklee het.

Hulle is onder andere Baleka Mbete, voormalige speaker van die nasionale vergadering, Faith Muthambi, voormalige minister van kommunikasie, en Tina Joemat-Petterson, voormalige minister van energie.

Mkhwebane sê sy sluit die ondersoeke om die aantal agterstallige ondersoeke te verminder en omdat die aanklagte wat tot die ondersoeke gelei het, ongegrond is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.