Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Om ‘politieke skaak’ te speel deel van OB se werk, hoor hof

Die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, sê dit is ’n onafwendbare deel van haar werk om “politieke skaak” te speel.

Dít kom nadat Basani Baloyi, afgedankte hoofbestuurder van die kantoor van die OB, Woensdag ’n dringende aansoek in die hooggeregshof in Pretoria gebring het om haar werk terug te kry.

Busisiwe Mkhwebane
Adv. Busisiwe Mkhwebane. Foto: Felix Dlangamandla

In hofdokumente het Baloyi ’n WhatsApp-boodskap van Mkhwebane aangeheg waarin Mkhwebane, met verwysing na ’n ondersoek na pres. Cyril Ramaphosa, geskryf het ’n “mens moet skaak speel”.

Mkhwebane het vroeër ten sterkste ontken dat sy ’n politieke agenda het en dat sy partydige bevindinge in van haar ondersoeke gemaak het.

Baloyi beweer sy is onwettig afgedank omdat sy nie Mkhwebane se beweerde politieke agenda wou bevorder nie.

Adv. Dali Mpofu, vir Mkhwebane, het hofstukke voorgelees waarin die OB sê haar werk behels wel die vermoë om “politieke skaak” te kan speel, maar dat dit nie noodwendig verkeerd is nie.

Mkhwebane sê die aard van haar werk vereis dat sy strategieë uitwerk om die magtige mense teen wie sy bevindinge maak, uit te oorlê.

“Dit is ’n speletjie met ’n koning, ’n koningin, ridders en pionne,” sê Mkhwebane.

Baloyi sê sy bring nie net die aansoek in haar eie belang nie, en vra die hof om ’n verklarende bevel te maak dat Mkhwebane haar grondwetlike plig versuim het.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi, vir Baloyi, sê dié bevel kan later deur die parlement gebruik word om Mkhwebane uit haar amp te verwyder.

“Die hof moet hier intree om die misbruik van mag stop te sit. As sy (Mkhwebane) nie stopgesit word nie, sal die situasie net vererger,” sê Ngcukaitobi.

Voorts het hy namens Baloyi aangevoer dat sy self ondervind het hoe Mkhwebane in sekere ondersoeke partydig opgetree het.

Hy verwys spesifiek na die OB se verslag waarin sy bevind het Ramaphosa het die parlement mislei oor ’n R500 000-skenking van Bosasa aan sy CR17-veldtog om president van die ANC te word, asook na die ondersoek waarin Mlungisi Tsitsi Mkhwebane teen Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, bevind het weens sy beweerde rol in die stigting van die sogenaamde “rogue unit” van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Volgens Ngcukaitobi het die OB Ramaphosa en Gordhan vir politieke doeleindes geteiken. Dié twee se sake is geprioritiseer, terwyl sake teen ander ministers nie aandag gekry het nie.

“Hoekom is Gordhan se saak geprioritiseer, maar Bathabile (Dlamini) se saak is nie?

“In die Bosasa-saak het die OB onbekende mense van buite gekry om die ondersoek te doen, terwyl sy personeel van die OB in die duister gehou het,” sê Ngcukaitobi.

Boonop het Mkhwebane Baloyi glo gevra om ’n dokument wat met die Bosasa-ondersoek verband hou te vernietig.

Baloyi beweer ook die uitvoerende hoof van die OB, Vusi Mahlangu, het onbehoorlik by van die ondersoeke ingemeng en was betrokke by haar afdanking.

Mpofu sê Baloyi ruk die kwessies uit verband uit.

Hy sê die beweringe oor onpartydigheid is buitendien irrelevant omdat dit hier net oor die heraanstelling van Baloyi gaan.

“Daar is geen verband tussen die stories en die spesifieke aansoek nie,” sê Mpofu.

Al drie klerke in die hof het in ’n stadium met hul oë toe gesit toe Mpofu geruime tyd regstegniese argumente aangevoer het oor hoekom die aansoek eerder in die arbeidshof aangehoor moet word.

Uitspraak in die saak word voorbehou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.