Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Omotoso en kie hoor Dinsdag oor aanklagte

Past. Timothy Omotoso en sy medebeskuldigdes sal waarskynlik teen Dinsdag weet op watter van die 97 aanklagte teen hulle hulle in Port Elizabeth verhoor gaan word.

Met sy Bybel in sy hand stap past. Timothy Omotoso Maandagoggend uit die beskuldigdebank na die aanhoudingselle van die hooggeregshof in Port Elizabeth. Foto: Cara-Lee Dorfling

Die verdediging het Maandag sy betoë voortgesit om beswaar te maak teen die jurisdiksie van die hooggeregshof in Port Elizabeth om al 97 aanklagte aan te verhoor. Omotoso (60) en sy medebeskuldigdes, Zukiswa Sitho (36) en Lusanda Sulani (26), het by monde van adv. Peter Daubermann, hul regsverteenwoordiger, aangevoer dié hof het net jurisdiksie oor enkele van die 63 aanklagte en 34 alternatiewe aanklagte.

Dié rits aanklagte spruit uit beweerde voorvalle waarin hulle jong meisies van oor die land heen vir seksuele voorbereiding gewerf het. Hulle word onder meer van rampokkery, seksuele aanranding en mensehandel aangekla.

Adv. Nceba Ntelwa SC, staatsaanklaer, het Vrydagoggend die magtigingsertifikaat by die hof ingehandig wat in April verlede jaar deur adv. Shaun Abrahams, voormalige nasionale direkteur van openbare vervolgings, uitgereik is. Dié sertifikaat dien as bewys dat die sake gesentraliseer is en dat dié hof wel jurisdiksie het om al die aanklagte te verhoor, ongeag waar in die land die misdade gepleeg is.

Daubermann het in reaksie gesê ingevolge die wet voldoen die sertifikaat nie aan die vereistes nie. Hy het aangevoer dit verwys nie na ’n spesifieke saaknommer of klagstaat nie en dat die nodige beskrywing van die aanklagte teen die beskuldigdes ontbreek.

Die verhoor het verlede week van voor af begin nadat die vorige regter hom vroeër vanjaar weens botsende belange aan die saak onttrek het. ’n Nuwe klagstaat is toe saamgestel.

Ntelwa sou die afgelope naweek ’n nuwe en bygewerkte magtigingsertifikaat bekom het, maar het Maandag daarsonder by die hof opgedaag. Hy het in die hof regspraak aangehaal om sy saak te staaf dat ’n nuwe sertifikaat onnodig is. Hy gaan ook staatmaak op die klagstaat wat tydens die vorige verhoor gebruik is.

Buiten een aantyging wat by een van die aanklagte gevoeg is, is daar geen verskil tussen die vorige en nuwe klagstaat nie, het Ntelwa gesê.

Buiten een aantyging wat by een van die aanklagte gevoeg is, is daar geen verskil tussen die vorige en nuwe klagstaat nie, het Ntelwa gesê.

Daubermann het op sy beurt gesê dit is ’n nuwe verhoor en die staat kan nie dokumentasie uit die vorige verhoor gebruik nie. Hy sê hoewel sy kliënte nie tydens die vorige verhoor beswaar oor die hof se jurisdiksie aangeteken het nie, beteken dit nie hulle het dit aanvaar nie.

Die beskuldigdes het volgens hom die reg om beswaar aan te teken en het volgehou die sertifikaat wat tans voor die hof is, voldoen nie aan die wet nie en dat dit ongeldig verklaar moet word.

Regter Irma Schoeman sal Dinsdag omstreeks 14:00 oor die kwessie uitspraak lewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.