Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Stellenbosch se tweede burger vas vir moord op voorganger

Die onderburgemeester van die Stellenbosch-munisipaliteit is Dinsdagaand in hegtenis geneem in verband met die moord op sy voorganger, Cameron Mcako (56). 

Cameron Mcako in 2010 buite die hof in Stellenbosch. Foto: Eikestad Nuus

Nog twee verdagtes is ook in hegtenis geneem. Nyaniso Jindela, DA-onderburgemeester en ook voormalige speaker, verskyn Donderdag in die landdroshof op Stellenbosch op aanklag van moord en sameswering om moord te pleeg. 

Volgens die polisie-ondersoek blyk die moord polities gemotiveerd te wees. 

Jindela en die ander twee beskuldigdes, asook ’n vierde beskuldigde wat reeds in die hof verskyn het in verband met die moord, Phumlani Sibonge, word van die moord in 2019 op Mcako aangekla. 

Koos Steyn, DA-voorsitter van die Wes-streek, het aan Netwerk24 bevestig dat Jindela in hegtenis geneem is, en sê die DA se provinsiale uitvoerende komitee hou Woensdagmiddag om 16:30 ’n dringende vergadering om die aangeleentheid te bespreek. 

Hy sê die DA probeer nog vasstel wat presies gebeur het en dit sal onvanpas wees om nou kommentaar te lewer. 

“Die gereg moet sy gang gaan,” sê Steyn. 

Mcako is vroeg in November 2019 in Mengostraat, Kayamandi, deur ’n onbekende man geskiet wat daarna weggehardloop het.

Mcako is twee dae later in die hospitaal dood. 

Die skietery het in Mcako se taverne, Happy Rest Tavern, gebeur.

Hy het agter die toonbank gestaan saam met een van sy vriende toe ’n man reguit na hom aangestap gekom het en twee skote op hom geskiet het. Mcako was van April 2008 tot Desember 2009 onderburgemeester toe hy lid van die ANC was.

Hy het hom kort voor die munisipale verkiesing in 2016 by die DA aangesluit. 

Hy was nie ten tyde van sy dood ’n amptenaar van die munisipaliteit nie. 

“Die munisipaliteit is daarvan bewus gemaak dat ’n inhegtenisneming uitgevoer is,” het Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, Woensdagoggend gesê.

“Die individue het nog nie in die hof verskyn en gepleit nie. Die munisipaliteit sal slegs in staat wees om ’n amptelike verklaring uit te reik sodra dit gebeur het.” 

Luidens ’n verklaring Woensdag van kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het ’n “deeglike ondersoek speurders na ’n man en vrou van onderskeidelik 56 en 46 jaar oud gelei, asook ’n 48-jarige manlike verdagte”. 

Destyds is berig honderde Kayamandi-inwoners het in 2019 buite die burgemeester se kantoor betoog en geëis dat Mcako verwyder word. Daar is beweer dat Mcako “konflik in die gemeenskap veroorsaak”. 

Meer oor:  Stellenbosch  |  Moord  |  Burgemeester
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.