Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Onderwyser se moordenaar sit 40 jaar

Geregtigheid het uiteindelik geseëvier vir ’n laerskoolonderwyser van Wolmaransstad in Noordwes, wie se goeie daad tot sy dood gelei het.

Isaac Tlhapi (44) is in April 2019 tot van die klere aan sy lyf beroof en sy naakte lyk is met talle steekwonde langs die pad tussen Makwassie en Leeudoringstad naby Wolmaransstad gevind.

Mans vir wie hy ’n saamrygeleentheid in sy silwer Nissan Qashqai gegee het, het hom vermoor, sy klere én sy voertuig gesteel. Die voertuig is enkele dae ná die moord in Soweto gevind.

Isaac Tlhapi

Een van sy moordenaars, Nkululeko Kraai (40), is vandeesweek in die rondgaande hof in Klerksdorp tot 40 jaar tronkstraf gevonnis, sê lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes, in ’n mediaverklaring.

Volgens haar gaan hy effektief 40 jaar sit omdat geen van die vonnisse vir onderskeidelik moord, roof en menseroof samelopend uitgedien sal word nie.

Tlhapi is op 25 April 2019 laas gesien toe hy ’n kuierplek in die Wolmaransstad-omgewing saam met drie ander mans verlaat het. Kraai en Joseph Leteane (23) is drie dae ná Tlhapi se verdwyning, nog voordat die lyk gevind is, in hegtenis geneem.

Volgens Funani het Leteane die polisie na Kraai in Delareyville gelei en ook vir hulle gaan wys waar Tlhapi se lyk langs die pad lê. Leteane het eindelik vir die staat getuig.

Tlhapi was ’n wiskunde-onderwyser aan die Gontse Primary School in die Tswelelang-township digby Wolmaransstad.

L.S. Seetane, die skoolhoof, het ná die moord gesê sy dood is ’n groot verlies vir die skool. “Hy was ’n dierbare, lojale mens en ’n harde werker,” het Seetane destyds gesê. “Die hele gemeenskap in Tswelelang is in rou. Ons leerlinge en onderwysers is almal verskriklik geskok.”

Tlhapi het ook in die skool se bestuur gedien. Hy was getroud en het twee kinders gehad.

Lt.genl. Sello Kwena, polisiekommissaris in Noordwes, het die speurders in Wolmaransstad wat die saak ondersoek het, geloof vir hul harde werk om genoeg bewyse te bekom om ’n skuldigbevinding en vonnis te verseker.

Meer oor:  Wolmaransstad  |  Moord  |  Hof  |  Onderwyser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.