Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Ongeldige’ regulasies: Dlamini-Zuma na appèlhof
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. Foto: Reuters

“Radikale fout”, “oorreaksie” en “onverklaarbaar” is enkele van die woorde in dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, se aansoek om verlof tot appèl teen die hooggeregshof-uitspraak wat ses van die vlak 3-regulasies ongeldig verklaar het.

Dié uitspraak is gelewer selfs al het hierdie regulasies nog nie bestaan ??toe die hof die saak aangehoor het nie.

Dit sluit in regulasies wat beperkings op oefening en begrafnisse plaas, die sluiting van strande en openbare parke, asook die verklaring van sekere oortredings van die rampregulasies tot strafregtelike oortredings.

Regter Norman Davis het op 2 Junie die Liberty Fighters Network (LFN) se aansoek in die hooggeregshof in Pretoria toegestaan om die regulasies ongrondwetlik en gevolglik ongeldig te verklaar.

Dlamini-Zuma het toe by die hooggeregshof om verlof tot appèl aansoek gedoen.

Davis het dit op 30 Junie aan haar toegestaan, maar slegs vir die algehele verklaring van ongeldigheid van die inperkingsregulasies. Die regter het haar tien dae gegee om die ses regulasies wat die hof as irrasioneel bevind het, te wysig.

Dlamini-Zuma vra nou die appèlhof om haar toe te laat om teen die uitspraak oor dié ses regulasies te appelleer.

In haar hofstukke voer die minister aan dat die appèlhof moontlik kan bevind dat die hooggeregshof in sy beslissing gefouteer het op grond van die volgende aspekte:

• Die LFN nie daarin geslaag het om ’n geldige aanval op die regulasies se grondwetlikheid te doen nie;

• Die hooggeregshof het wyer gekyk as dit waarvoor die applikante gevra het;

• Die vlak 3-regulasies was nie ten tyde van die verhoor voor die hof nie;

• Die hooggeregshof se toets vir die rasionaliteit van die ses regulasies was gebrekkig;

• Die algehele verklaring van ongeldigheid is nie geregverdig nie; en

• Die bevele van die hooggeregshof is uitermatig vaag.

“Die eerste en mees fundamentele fout deur die hooggeregshof is sy bevinding dat die vlak 3-regulasies ongrondwetlik is. Die hof maak hierdie bevinding, al was hierdie regulasies nog nie uitgevaardig toe die hof die saak aangehoor het nie,” sê Dlamini-Zuma.

“Op grond van hierdie radikale fout alleen moet die hooggeregshof se bevel tersyde gestel word.

“Dit (die LFN se funderende eedsverklaring) het nie die regulasies waarteen dit gemik is, geïdentifiseer, of gespesifiseer op grond waarvan hulle aangeval word nie. Weens die versuim van die respondente om die konstitusionele dispuut met ’n sekere mate van spesifisiteit aan te dui, is ek die geleentheid ontneem om sinvol daarop te reageer,” lui die minister se beëdigde verklaring.

Dlamini-Zuma vra ook dat die saak as dringend gehanteer word.

“Daar is om ooglopende redes dwingende oorwegings van groot openbare belang dat ’n appèl teen hierdie uitspraak dringend deur hierdie hof aangehoor en beslis moet word.

“Die rampregulasies, insluitend die ses regulasies, beïnvloed daagliks die lewe van Suid-Afrikaners op ’n ingrypende wyse. As dit die Grondwet oortree, moet dringend daaroor beslis word,” sê Dlamini-Zuma.

“As hulle aan die ander kant aan die eise van grondwetlikheid voldoen, moet ook dít onverwyld bepaal word.

“Die uitspraak het verwarring by die publiek geskep oor die geldigheid van die regulasies,” sê Dlamini-Zuma.

News24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.