Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Onmin oor Joost-boedel duur voort

Amor Vittone sê in hofstukke haar oorlede man, Joost van der Westhuizen, se familie wou hê dat sy die eienaarskap van die helfte van hul huis in Dainfern, Johannesburg, aan die J9-trust oordra.

Dit was in ’n poging om die voortslepende twis oor sy boedel te besleg, maar sy het geweier.

Amor Vittone verlede jaar by die roudiens vir Joost van der Westhuizen. Foto: Elizabeth Sejake

Die Van der Westhuizens vra die hooggeregshof om te beveel dat ’n testament wat Joost in 2015 opgestel het, geldig verklaar word. Amor staan dié eis teen.

Joost het sy en Amor se gesamentlike testament van 2009 in 2015 vervang met een waarin sy net ’n TV kry. Die rugbyheld het toe sy hele boedel bemaak aan die J9-trust, waarvan sy twee kinders die enigste begunstigdes is.

Amor het in haar hofstukke wat in Desember by dié hof ingedien is, gesê die Van der Westhuizen-familie se regsverteenwoordigers, BDK Prokureurs, het in Julie verlede jaar voorgestel dat hulle skik. Hul voorstel was dat die 2009-testament aanvaar word as Joost se laaste testament, maar dat Amor instem dat die J9-trust ’n gesamentlike eienaar van die huis in Dainfern word. BDK het gesê die trust se 50%-aandeel sal uitsluitlik tot die kinders se voordeel wees.

Amor moes ingevolge dié voorstel skriftelik onderneem dat sy nooit weer “enige verwysing” na Joost en ses van sy familielede in die media maak of hulle kontak nie. BDK het toe gesê Amor het lasterlike en skadelike boodskappe of stempos aan sy kliënte gestuur – veral aan Joost se ma, Mariana.

‘Die kinders is my alles en ek sal sekerlik nie tot hul nadeel optree nie.’

Amor sê in haar hofstukke sy was nie bereid om met BDK te onderhandel oor bepalings wat nie met die 2009-testament strook nie. Die 2009-testament is geldig, dis deur die meester van die hooggeregshof aanvaar en daar is geen rede om daarvan af te wyk nie. “Die enigste groot gevolg van die 2009-testament is dat ek die een helfte-aandeel van Joost se boedel in die eiendom moet erf. Volgens die 2015-testament word die een helfte-aandeel aan die J9-trust bemaak. As laasgenoemde situasie voortduur, voorsien ek verdere vyandigheid op die horison.”

Amor sê as sy dié ooreenkoms aanvaar, sal sy die J9-trustees se toestemming moet kry as sy die huis moet verkoop.

Ferdinand Hartzenberg, Joost se voormalige prokureur, het in hofstukke gesê Joost het hom opdrag gegee om ’n laaste testament op te stel oor sy helfte-aandeel in die huis. Dít was nadat Amor onder meer “gedreig” het om die kinders se van na Vittone te verander en daarop aangedring het dat die hele gemeenskaplike boedel aan haar bemaak word.

Amor ontken enige dreigemente. “Die kinders is my alles en ek sal sekerlik nie tot hul nadeel optree en aandring dat die boedel aan my nagelaat word en dat niks aan hulle gaan nie.”

Amor sê sy moet raap en skraap met net die helfte van die inkomste wat sy deur die trust ontvang het – wat hoofsaaklik aan die kinders bestee word.

Sedert Joost se dood, moet sy “ekstra ure insit” vir geld. Sy is ’n motiveringspreker, TV-aanbieder, aktrise, en sy skryf, sing en neem ’n nuwe album op.

Ulrich Roux, van BDK Prokureurs, sê aangesien Joost nie die 2015-testament kon teken nie omdat hy die gebruik van sy hande weens motorneuronsiekte verloor het, het die meester van die hof dié testament nie aanvaar nie.

Pieter van der Westhuizen, Joost se broer, sê hoewel Joost dit nie kon onderteken nie, was dié testament uitdruklik Joost se wens. Dié wens moet vervul word, en daarom moet die hof nou oor die geskil beslis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.