Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Onnie gelem – mag nie eis

’n Wiskunde-onderwyser wat drie keer deur ’n skoolseun met ’n mes gesteek is omdat hy nie sy haarstyl wou verander nie, het die wind van voor van die hooggeregshof gekry toe sy ’n skadevergoedingseis ingestel het.

Die hooggeregshof in Pretoria het bevind Thandi Ndala mag nie skadevergoeding eis van die onderwysowerhede nie omdat dit ’n bedryfsbesering was en sy reeds vergoeding van die Vergoedingskommissaris daarvoor geëis het.

Ndala het aangevoer ’n aanval deur ’n leerling is nie ’n bedryfsbesering nie omdat dit nie in die normale gang van ’n onderwyser se diens plaasvind nie. Sy het ook aangevoer die beheerliggaam en onderwysdepartement moes meer gedoen het om haar te beskerm teen só ’n aanval.

Sy het R2,75 miljoen geëis.

Die seun het Ndala (33) in Januarie 2014 in haar klaskamer by die Father Smangaliso Mkhatshwa Secondary School in Winterveld naby Pretoria aangeval. Sy het R2,75 miljoen van die minister van onderwys, die Gautengse onderwysdepartement en die skool se beheerliggaam geëis weens die voorval.

Regter Joseph Raulinga het in die uitspraak gesê die leerling is vooraf deur ’n ander onderwyser berispe omdat sy haarstyl nie strook met die skool se gedragskode nie.

Toe die kind weer hieroor gekonfronteer is, het hy huis toe gegaan, ’n mes gaan haal en teruggekeer skool toe.

Die betrokke onderwyser het die kind uit Ndala se klas gaan roep. Op pad uit het hy haar drie keer in die agterkant van haar skouer gesteek terwyl sy op haar stoel gesit het.

Die kind het daarna ook die skool se tuinier gesteek en die onderwyser wat hom oor die hare aangespreek het, met die mes rondgejaag totdat hy deur ander leerlinge gevang is.

Al drie volwassenes is hospitaal toe.

Neo Maimane, die skoolhoof, het in ’n verslag wat by die hof ingedien is, gesê die kind het skelmpies die mes gaan haal. Die hekwag en patrolleerders het hom eers opgemerk toe hy terugkom.

“Dit het nie by hulle opgekom dat die seun moeilikheid gaan maak nie, maar een van die patrolleerders het hom gevolg, hoewel sy te laat was om die aanval op me. Ndala te keer.”

Die polisie was gou daar en het die seun weggevat.

Raulinga het bevind die onderwysowerhede was nie nalatig nie. Hy het ook bevind dis steeds ’n bedryfsbesering, of dit nou deur ’n misdaad veroorsaak is of nie.

Volgens ’n sielkundige verslag voor die hof ly Ndala nou aan posttraumatiese stresversteuring.

Die skool het alle navrae hieroor na die Gautengse onderwysdepartement verwys, wat nie op Rapport se navrae gereageer het nie.

Ndala het ’n klag teen die seun by die polisie ingedien.

Hlahane-prokureurs in Pretoria, wat namens Ndala optree, het gesê die kind is strafregtelik aangekla, maar dis onduidelik wat van die strafsaak geword het. Ndala het in Februarie 2015 ’n oorplasing na ’n ander skool gekry.

Meer oor:  Aanranding  |  Skadevergoeding  |  Onderwyser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.