Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Vermoorde onnie 'het man gereeld kos gegee'

Die vermeende moordenaar van ’n onderwyseres van Johannesburg het gewerk as ’n veiligheidswag by die meenthuiskompleks waar sy gewoon het.

So het Naadira Vanker (31) se ma, Naheema, aan Netwerk24 gesê. Haar dogter se lyk is verlede Dinsdag in ’n vlak graf in die Phumlamqashi-nedersetting naby Lenasia-Suid gevind.

Die gewese veiligheidswag, Lucky Mshubi (36), is in verband met die moord op dié onderwyseres van die Progress Primary School in Lenasia in hegtenis geneem.

Naadira Vanker (31), 'n onderwyseres van Johannesburg, is ontvoer en vermoor. Foto: Verskaf

Vanker het gesê haar dogter se vier kinders, wat onderskeidelik een, vier, ses en agt jaar oud is, woon nou by haar.

“Dit gaan baie sleg met die kinders. Hul ma is van hulle af weggeruk.

“My skoonseun het niks te doen met wat gebeur het nie. Hy is stukkend,” het sy gesê.

Dit is nie duidelik waar Vanker se man was toe sy ontvoer is nie.

Aabida Genner, ’n suster van Vanker, het gesê hulle is geskok dat Mshubi moontlik by die moord betrokke kon wees.

“My suster het ’n goeie hart gehad en het haar oor hom ontferm. Sy het gereeld vir hom kos gegee.”

Vanker is op Donderdag 22 April omstreeks 06:00 uit haar meenthuis in Grosvenorstraat in Lenasia-Suid ontvoer. Haar kinders was by die huis toe sy oorval is.

Lucky Mshubi (36) Vrydag in die hof in Lenasia. Foto:eNCA

Nadat sy glo aangerand is, is sy in haar motor geboender.

Van die kinders het gehardloop na ’n familielid wat daar naby woon om hulp te kry.

Vanker se Honda Accord is later dieselfde dag verlate in Ennerdale in die suide van Johannesburg gevind.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder in Gauteng, het gesê ’n taakspan het verlede Dinsdag op ’n sinkhut in die Phumlamqashi- informele nedersetting toegeslaan.

Mshubi is in hegtenis geneem en hy het na bewering die vlak graf met Vanker se lyk aan die polisie uitgewys.

Lucky Mshubi (36) Vrydag in die hof in Lenasia. Foto: eNCA

eNuus berig inwoners van die nedersetting beweer dat die polisie bebloede klere en ’n kombers wat in die vlak graf gekry is, net daar gelos het.

Masondo het gesê die polisie neem slegs monsters van bebloede klere op ’n misdaadtoneel. “Die publiek dink ons het bewysstukke agterlaat, maar ons het net ’n deel daarvan vir forensiese toetse nodig.”

Mshubi het Vrydag in die landdroshof in Lenasia verskyn en wou nie toe aansoek om borgtog doen nie. Hy het die hof ook meegedeel dat hy sy eie verdediging sal behartig.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, het gesê Mshubi staan op aanklagte van moord, huisbraak met die opset om te roof, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en dwarsboming van die gereg tereg.

Mjonondwane het gesê die staat voer aan dat Mshubi die ontvoering beplan het.

Hy sal weer op 26 Junie in die hof verskyn.

Volgens Masondo word nog ’n man gesoek wat glo by die ontvoering en moord betrokke was.

Meer oor:  Progress Primary School  |  Naadira Vanker  |  Lucky Mshubi  |  Johannesburg  |  Lenasia  |  Onderwyser  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.