Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Ons stel voor 300 uit 400 LP’s moet verkose wees’

Hy glo met ’n nuwe kiesstelsel waarin kiesafdelings ’n groot rol speel, sal meebring dat tot 30% meer kiesers in ’n algemene verkiesing hul kruisies sal gaan trek.

Só sê dr. Michael Louis van die organisasie New Nation Movement wat hom suksesvol tot die konstitusionele hof gewend het om die Kieswet ongrondwetlik verklaar te kry omdat onafhanklike kandidate nie aan nasionale en provinsiale verkiesings kan deelneem nie.

Dr. Michael Louis. Foto: Verskaf

Louis, ’n voormalige Wes-Kaapse LPR en LUR van openbare werke en ontwikkelingsbeplanning, is ten nouste betrokke by die herskryf van die Kieswet.

“Met verlede jaar se verkiesing het sowat 11 miljoen kiesers nie gaan stem nie.

“Ek glo as ons ’n nuwe kiesstelsel het waar die verkose parlementslede en lede van die provinsiale wetgewer in ’n kiesafdelingstelsel meer verantwoordbaar is teenoor die kiesers, sal meer mense gaan stem,” het hy Vrydag gesê.

“Die kiesers sal in die nuwe stelsel weet presies wie vir hul kiesafdeling verantwoordelik is.”

Louis sê die konsep is sterk gegrond op die voorstelle wat wyle dr. Frederik van Zyl Slabbert en sy taakspan in die 1990’s gemaak het. Slabbert se voorstelle het 16 jaar gelede voor die parlement gedien, maar is toe verwerp.

“Hy het destyds voorgestel die land moet in 69 kiesafdeling opgedeel word, maar ons stel in die konsep 52 voor. Dit is omdat daar tans 52 munisipale distrikte in die land is.

“Die nasionale parlement sal bestaan uit 300 mense wat regstreeks verkies is en 100 wat proporsioneel verkies sal wees.”

Die digsbevolkte kiesafdelings, soos die nege metrogebiede, sal uit meer as een kiesafdeling bestaan.

Die politieke partye sal kandidate vir elk van die kiesafdelings aanwys. “Hulle kan nie soos nou die geval is bloot 200 name op die lys hê en niemand weet wie hulle is nie.

“Tot nou toe het ons ’n geslote partylys-stelsel gehad. Van nou af sal dit ’n opelys-stelsel wees.

“Die kiesers sal met die nuwe stelsel presies weet wie die kandidate is vir wie hulle stem. Wie dan wen, gaan parlement toe. Dis nie meer die party wat sê wie gaan nie.”

Louis sê hy stem nie saam met kritici wat meen só ’n stelsel sal minderhede benadeel nie.

Hy sê die aanvanklike plan met die nuwe wet was om die verkiesing van die president ook in te sluit, maar dit kan nie gedoen word nie omdat die Grondwet bepaal hoe die verkiesing van die president moet geskied.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê daar bestaan ’n wanindruk dat dit die kiesstelsel is wat verantwoordbaarheid van parlementslede en provinsiale wetgewers moet verseker.

“Indien daar wel aan die kiesstelsel verander word, moet daar steeds seker gemaak word dat die algemene uitslag op proporsionaliteit gegrond word. Indien die veranderinge dus voorsiening maak vir onafhanklike kandidate, moet dit soortgelyk wees aan die huidige stelsel op plaaslike regeringsvlak.

“In die Van Zyl Slabbert-verslag is bevind dat sou Suid-Afrika se kiesstelsel oorskakel na ’n kiesafdeling-kiesstelsel soos voor 1994, dit die ANC feitlik oornag ’n meerderheid van sowat 80% in die Nasionale Vergadering kan besorg.

Genl. Bantu Holomisa, UDM-leier, sê dié party staan ’n gemengde kiesstelsel voor waarin die sterkpunte van albei die proporsionele en kiesafdelingstelsel figureer. “Kiesafdelings moet deel word van die stelsel van proporsionele verteenwoordiging om seker te maak dat daar politici is wat vir ’n spesifieke geografiese gemeenskap wat hulle verteenwoordig, verantwoordbaar is.”

Meer oor:  New Nation Movement  |  Kiesstelsel  |  Wes-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.