Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ons wil óók staatsgeld vir regsaak hê, sê SAPD-hoës

Daar is ’n presedent geskep deurdat die staat lt.genl. Anwa Dramat se regskoste vir sy strafsaak betaal, maar nie dié van genl.maj. Shadrack Sibiya en lt.kol. Leslie (Cowboy) Maluleke nie.

So sê Sibiya, voormalige hoof van die Valke in Gauteng, namens hom en Maluleke, voorheen ’n ondersoeker van die Valke se kantoor vir georganiseerde misdaad, in ’n verklaring voor die hooggeregshof in Pretoria.

Shadrack Sibiya. Foto: Theana Breugem

Sibiya en Maluleke se hooggeregshofaansoek om die polisiediens te dwing om hul regskoste vir hul strafsaak te finansier, is Maandag onbepaald uitgestel.

Dié twee en Dramat, voormalige nasionale hoof van die Valke, staan tereg op ’n rits strafregtelike klagte wat verband hou met die sogenaamde Zimbabwiese uitleweringsdebakel.

Sibiya en Maluleke pak in die hooggeregshof ’n besluit wat op 22 Junie 2016 geneem is. Lt.genl. Berning Ntlemeza, Valke-hoof, het toe hul aansoek afgekeur dat die polisiediens hul regskoste betaal.

Hulle vra die hooggeregshof om Ntlemeza se besluit tersyde te stel en die nasionale polisiekommissaris te beveel om hul regskosteaansoek goed te keur.

Sibiya, Maluleke en Dramat word aangekla van menseroof, oortredings van die Immigrasiewet en dwarsboming van die gereg. Hulle is op 14 Maart 2016 deur die nasionale vervolgingsgesag aangekla van oortredings wat verband hou met die onwettige uitlewering van Zimbabwiese burgers deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens weens moord op ’n polisielid in daardie land.

Anwa DramatFoto: Danielle Karallis

Die aanklagte sluit sewe van ontvoering in van Zimbabwiërs op 5 November 2010 in Diepsloot, noord van Johannesburg. Maluleke word ook aangekla van diefstal van drie van die sewe se goedere in die klopjagte wat gelei het tot die uitlewering.

Die drie sal in die hooggeregshof verhoor word.

Sibiya, van Eldoraigne, Centurion, verwys in ’n eedsverklaring na die polisie se staande orde 109 oor regsverteenwoordiging van werknemers in strafsake. Hy het die verklaring ook namens Maluleke, van Soweto, afgelê.

Hy sê daarvolgens kwalifiseer elke werknemer van die polisie wat aangekla word van ’n misdaad vir regsverteenwoordiging wat deur die polisie betaal word.

Hy en Maluleke was werknemers van die Valke, wat onder die verantwoordelikheid van die minister van polisie val. Hulle word daarvan aangekla dat hulle sekere misdade gepleeg het terwyl hulle hul amptelike pligte in diens van die polisie uitgevoer het. Dus kwalifiseer hulle vir regsverteenwoordiging wat deur die polisiediens betaal word.

Sibiya ontken dat hy hoegenaamd betrokke was by die misdade. “Ek het nooit enigiemand enige opdrag gegee om deel te neem aan die uitvoering van enige misdaad nie.”

Hy was “nie teenwoordig op die datum, tyd en plek waar die beweerde misdade plaasgevind het nie”.

Maluleke is deur misdaadintelligensie se hoofkantoor versoek om hul lede te help met hul operasie in Diepsloot en ’n konstabel van misdaadintelligensie kan Maluleke se weergawe staaf, lui Sibiya se verklaring.

Maluleke ontken dat hy besittings van die Zimbabwiërs gesteel het.

Nóg Sibiya nóg Maluleke het hul magte oorskry of roekeloos of opsetlik opgetree, lui die verklaring.

Sibiya sê Ntlemeza het homself verkeerdelik die mag toegeëien om die besluit oor hul regskosteaansoek te neem. Ntlemeza kon slegs ’n aanbeveling daaroor aan die polisiehoof doen. Dus is Ntlemeza se besluit ongrondwetlik en ongeldig.

Die weiering om hul regskoste te betaal, sal ’n skending van hul reg op ’n billike verhoor wees. Dít sluit die reg in om hul regsverteenwoordiger te kies en dat die regskoste ingevolge die staande orde deur die staat betaal word.

Sibiya sê Dramat se aansoek om regskostefinansiering is deur die minister goedgekeur. Hierdeur het die minister ’n presedent geskep en behoort hy hulle twee se aansoek ook goed te keur.

Die minister van polisie, die Valke, die polisiehoof en Ntlemeza moet nog hofstukke indien.

Meer oor:  Shadrack Sibiya
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.